DUALISME

DUALISME is in die algemeen ’n wysgerige stelsel wat alles wil verklaar uit twee onherleibare en teenoor mekaar staande beginsels, bv goed teenoor kwaad of stof teenoor gees. In die antropo­logie* (mensleer) beteken dualisme dat die mens uit twee afsonderlike substansies – siel* en liggaam* – bestaan. Dit word ook di­go­tomie* genoem.

Die dualistiese mensbeskouing kan te­rug­gevoer word na die voor-Christelike Griekse filosofie*. Plato* het al geleer dat die siel van goddelike oorsprong en onsterflik (Kyk by: Onsterflikheid) is, terwyl die liggaam van ’n laer orde en sterflik is. Via Aristoteles het die dualistiese mensbeskouing ’n onberekenbare invloed op die Middeleeuse skolastieke* teologie* uitgeoefen. Thomas van Aquino* beklemtoon bv veral die waarde van die intellektuele siel teenoor die liggaam. Dit was eers die Kerkhervorming* wat, al was dit net in beginsel, met hierdie dualisme gebreek het. Selfs in die gereformeerde* teologie is daar tot onlangs nog dikwels op ’n dualistiese manier oor die mens* gepraat.

Die Bybel leer beslis nie ’n dualistiese mensbeskouing nie. Woorde soos “siel”, “gees”, “liggaam” en “vlees” dui nie op aparte gedeeltes van die mens nie, maar beskryf die hele mens vanuit verskillende gesigspunte.

Vir verdere lees: Durand, JJF 1982 Skep­ping, mens, voorsienigheid. Pretoria: NGKB. Heyns, JA 1974. Die mens. Bloem­fontein: SACUM.

Sidebar