DUALITEIT

DUALITEIT moet onderskei word van dualisme*. Dualisme staan as filosofie* direk teenoor monisme*. In die antropologie* (mensleer) beteken ’n dualisme dat die mens uit twéé (duo) basiese substansies – siel* en liggaam* – sou bestaan (dit word ook digotomie* genoem). ’n Monistiese mens­beskouing impliseer dat die hele menslike bestaan tot een (mono) substansie herlei kan word. Die materialisme* ontken byvoorbeeld enige geestelike werklikheid en beweer dat die mens slegs liggaam is.

Dualiteit probeer ’n middeweg tussen die uiterstes van dualisme en monisme bewandel. Die algemene opvatting onder Christene is dat ons moet erken dat die mens ’n dualiteit van siel en liggaam is. Daarmee onderskei ons dié twee fasette van mens-wees, sonder om hulle op ’n dua­listiese manier van mekaar te skei. Wanneer die Heidelbergse Kategismus*, Sondag 1, ons leer om te bely dat dit ons “enigste troos” in lewe en sterwe is dat ons “met liggaam en siel” aan Jesus Christus* behoort, beteken dié uitdrukking gewoon die hele mens in die totaliteit van sy bestaan.

 

Sidebar