DUFF, ALEXANDER

DUFF, ALEXANDER (1806–1878),’n Skot, het ’n beslissende gebeurtenis op jong leeftyd beleef toe hy en ’n skoolvriend deur die donkerte van die nag en sneeu oorval is. Hulle het geen teken van hulp gesien nie en begin wanhoop. Hulle was later uitgeput, het ernstig gebid, en het toe wonderbaarlik ’n lig by ’n huisie gesien en is gered. Dit het ’n wending in sy lewe gebring. As ywerige student het hy hom in die teolo­gie* bekwaam en het as sendeling* na In­dië vertrek (Mei 1829). Daar het hy ’n bydrae van onskatbare waarde gelewer. Deur onderrig en opleiding het hy plaaslike in­woners, veral jongmense, met die evan­gelie* en ook met die Westerse wêreld kennis laat maak. Die opleiding wat hy gegee het, het in Engels plaasgevind. Hy het so­doende die grondslag gelê vir verdere op­lei­ding in Indië en Engels as ’n algemene taal in dié land. As sendeling het hy steeds vanuit die boodskap van die Bybel* gedink, maar ook probeer om op alle terreine kennis en wetenskap te bevorder. Sy lewe het as inspirasie vir etlike ander sendelinge ge­dien. Daar word wel vrae gestel oor die voorkeur wat hy aan Engels ten koste van inheemse tale gegee het.

Vir verdere lees: GE Anderson en andere (red) 1994. Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missio­nary Movement. New York: Orbis.

 

Sidebar