DUISENDJARIGE RYK

DUISENDJARIGE RYK. Die Latynse woord vir duisend jaar is millennium (die Griekse woord vir ’n duisendtal is chilias). Die siening dat daar aan die einde van die tye ’n duisend jaar van vrede sal wees (v­g­l Op 20:2-7), word millennialisme* (of chiliasme) genoem. Daar is ’n paar variasies van hierdie beskouing wat wissel van ’n redelik letterlike sistematisering en harmoniëring van die Bybelse* gegewens, tot ’n meer simboliese verstaan daarvan. Die belangrikste is dié dat Christus* vóór die duisend jaar weer sal kom en dan daarna uit Jerusalem* vir ’n duisend jaar oor ’n ryk van vrede* sal regeer. Dit word premil­lennialisme* genoem. Sommige onderskei onder hierdie term ook nog verder tussen historiese premillennialisme* en dispensasionele premillennialisme*. Eersge­noem­de aanvaar dat sekere tekens* van die tye – soos die evangelie* wat aan alle nasies verkondig moet word, die groot verdruk­king wat moet kom, die Jode* wat na Palestina* sal terugkeer, die koms van die Antichris* – eers in vervulling moet gaan en dán sal Christus kom en die vrederyk stig. Die duisend jaar sal ’n besondere tyd van vrede wees, maar daarna sal die duiwel* weer losgelaat word, wat die onbekeerdes uit die nasies sal vergader en teen die Here* oorlog sal voer. Die Here sal egter oorwin en die duiwel in die poel van vuur werp. Daarna volg die opstanding* van die onge­lo­wiges en die ewige oordeel*. Dan maak die Here die hemel* en die aarde* nuut en die ewige heerlikheid breek aan. Dispensa­sionele premillenialisme is ’n ingewik­kelder variasie wat neerkom op ’n verdub­beling van ’n hele paar van bogenoemde momente. Daar is byvoorbeeld twee Gods­volke, IsraelH en die kerk*, twee komste van Christus, naamlik die wegraping* en die wederkoms*, twee opstandings en twee oor­dele. Volgens hierdie siening is daar ook ’n goed uitgewerkte en gedetailleerde volgorde waarvolgens alles sal gebeur.

Postmillennialisme is eenvoudiger en aanvaar dat die koninkryk* van God reeds besig is om te kom in die tyd waarin ons lewe. Die evangelie word reeds aan alle mense verkondig, meer en meer mense kom tot bekering* en die wêreld word stelselmatig ’n al beter plek. So breek die millennium aan. Uiteindelik sal Christus na ’n wêreld kom wat Hom verwag, mas­sabekering van die Jode* vind plaas, Satan* word losgelaat en opstand volg. Daarna kom Christus en onderdruk die opstand. Dan vind die opstanding uit die dood* plaas en die ewige oordeel breek aan, gevolg deur die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Amillennialisme verwerp die letterlike verstaan van die vrederyk. Christus het deur sy dood en opstanding klaar die bose se mag verbreek, Satan gebind en voer alreeds heerskappy op die aarde. Die duisend jaar is ’n simboliese verwysing na die hele tyd tussen die eerste koms en Christus se wederkoms waarin ons nou leef en waarin Christus regeer. Alhoewel Satan in beginsel gebind is, is hy nog nie vernietig nie en is hy nog bedrywig, maar hy sal aan die einde finaal vernietig word. (Kyk ook: Millennium*.)

Sidebar