DUISTERNIS

DUISTERNIS word in die Bybel* oorwegend negatief gebruik. Kwaaddoeners kruip daarin weg (Job 5:14; 24:13-17). Angs (Job 23:15-17), ’n put, tronk en die hel* (Ps 88:7; 107:10; 2 Pet 2:4), hartseer en dood* (1 Sam 2:9; Job 10:21-22; Pred 5:16; 11:8), word met duisternis vergelyk. Die duisternis is egter vir God nie donker nie (Ps 139:12).

Duisternis simboliseer God se oordeel* (Eseg 32:7,8; Sef 1:15; Matt 22:13). Egipte word met duisternis getref (Ps 105:28). Die Dag* van die Here oorval mense van die duisternis (1 Tess 5:4-5). Geen “gemeenskap tussen lig en duisternis” is moontlik nie (2 Kor 6:14). Dwaasheid* (Ps 82:5; Pred 2:13-14), geestelike blindheid (Rom 2:14; 2 Pet 1:19), die lewe in opstand teen God (Spr 2:13; Rom 13:12; Ef 5:8, 11), haat*, dubbelvisie en verdeelde lojaliteite toon dat mense in die duisternis lewe (Matt 6:19-24; 1 Joh 2:8-10).

Om uit die duisternis na die lig gebring te word, is ’n beeld van verlossing (Kol 1:13; 1 Pet 2:9). In God is daar geen duisternis nie (1 Joh 1:5). Hy verdryf die duisternis met sy skeppingslig (Gen 1:2). Duisternis kan nooit die lig oorwin nie (Joh 1:5). Wie in Jesus* glo (Kyk by: geloof), sal nooit in duisternis lewe nie (Joh 8:12; 12:35, 46).

Duisternis word egter nie in die Bybel nét negatief beoordeel nie. Die Amerikaanse teoloog Barbara Brown Taylor wil in haar boek, Learning to Walk in the Dark (2014), die algemene opvatting dat duisternis boos is, weerlê, en wys onder meer daarop dat Jesus se  opstanding* uit die dood juis in die “duisternis” van die graf plaasgevind het (vgl Joh 20).

 

Sidebar