DUNS SCOTUS, JOHANNES

DUNS SCOTUS, JOHANNES (1266–1308) is in Skotland gebore, soos sy naam aandui. Hy tree, toe hy 15 was, toe tot die Francis­kaanse orde*, en word op 25 tot priester*2 georden. Hy studeer in Parys. Hy gee om die beurt klas in Oxford (Engeland), Parys (Frankryk) en Keulen (Duitsland).

Alhoewel hy jonk sterf, en sy teologie* nie veel amptelike erkenning in die Katolieke Kerk* kry nie, oefen hy ’n groot invloed uit op die teologiese denke van sy tyd. Van die ongeveer 60 werke wat hy nalaat, is die belangrikste sy kommentaar op Petrus Lombardus* se Sinne (Sententiae).

Duns Scotus het twee byname wat sy teologie tipeer. As “Doktor in Subtiliteit” het hy sy teologie van God se liefde in uiterste subtiliteite beskryf sodat dit selfs moeilik is om te verstaan. Die skepping*, sê Scotus, is ’n uitreiking van God se liefde* na mense sodat hulle God – uit vrye wil – ook kan liefhê. Mense glo op grond van God se liefde (genade*), en op grond van hulle eie vrye wil. Die wil is superieur oor die intellek. Geloof* is dus gebaseer op genade en vrye wil, en nie op logiese bewyse nie.

As “Doktor van Maria” het Duns Scotus bekend geword omdat hy die maagdelike geboorte* teologiese profiel gegee het.

 

Sidebar