DUNSTAN

DUNSTAN (909–988) het as smid, verwer en juwelier gewerk voordat hy in 945 as ab van Glastonbury aangestel is. Later het hy die aartsbiskop* van Kantelberg geword (960). In hierdie hoedanigheid het hy die kroning van Edgar (973), Eduard die Marte­laar (975) en Ethelred (978) behartig. Hy het by elkeen van hierdie geleenthede dieselfde liturgie* en rituele gevolg – vandag nog die basis van die kroningsplegtigheid van die Britse monarg. Dunstan is in 1029 tot hei­lige verklaar. Hy is die beskermheilige van goudsmede.

Verskeie anekdotes is in omloop oor Dun­stan se onderonsies met die duiwel*. So word vertel dat die duiwel vir Dunstan sou gevra het om sy perd se hoefyster te vervang. Dun­stan het daarop die hoefyster aan die dui­wel se voete vasgespyker. Dit het baie pyn veroorsaak. Dunstan het gesê dat hy die hoefyster sal afhaal as die duiwel be­lowe om nooit by ’n plek in te gaan waar daar ’n hoefyster aan ’n deurkosyn hang nie. Een van Charles Dickens se Kerliedere bevat ook ’n verwysing na Dunstan.

 

Sidebar