DURAND, JOHANNES JACOBUS FOURIE

DURAND, JOHANNES JACOBUS FOURIE (JAAP) (1934 –) se lewensweg en -werk kan onder drieërlei gesigspunt ge­skets word. 1. Akademies. Die inhoud en aan­pak van twee doktorale proefskrifte (Sen­dingweten­skap, Amsterdam 1961; Dog­matiek, Stellen­bosch 1973), ’n aantal monografieë en talle referate en artikels, getuig deurgaans van besondere skerpsinnigheid en helderheid. Erkenning volg by wyse van vier eredoktorsgrade, die Totiusprys* vir Teologie en, internasionaal, lesingtoere en optredes op uitnodiging (VSA, Nederland, Wes-Duitsland, Moskou). Aan die Univer­siteit van Wes-Kaapland beklee hy van 1973 af agtereenvolgens die leerstoel in Sistema­tiese Teologie (Dogmatiek*)  en die poste van dekaan van die Fakulteit Teologie, adjunk-visekanselier en waarnemende visekanselier tot met sy uittrede in 1995. 2. Kerklik. In die NG Kerk in Afrika* dien hy as predikant op Cala en Kwazakhele, moderator* van die streeksino­de Kaapland en aktuarius* van die alge­mene sinode. In die aanloop tot kritieke keerpunte in die resente Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis – die afkondiging van ’n staat van belydenis (1982), die Belydenis van Belhar* (1986), ’n nuwe kerkorde vir die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (1990) – speel hy, soms onopsigtelik, ’n sleutelrol. 3. In samelewingsverband. In ’n samelewing gelaai met spanning en konflik, was sy insette nie primêr polities gemotiveerd nie, maar teologies van aard. Die insig dat die versoening* wat Jesus Christus* bewerk het, die kern van die krisis in Suid-Afrika blootlê, stel hom in staat om na die wortels van die apartheidsteologie* te boor. Deur aan te toon dat die uitgangs­punt daarvan die wesenlike ónversoenbaarheid tussen mense (bevolkingsgroepe) is, kon hierdie ideologie grondiger as voorheen ontmasker word as direkte weerspreking van die evangelie*. Andersyds kon hy in prediking, lesing en geskrif die konsekwensies van die versoeningsboodskap deurtrek na die weerbarstige kerklike en samelewingspraktyk.

In sy later lewe publiseer Durand steeds werke wat van groot nadenke getuig, soos Dit is amper dag (CUM) (2010) en Evolusie, wetenskap en geloof (Bybelkor) (2013) en Protesstem (Bybelkor) (2016).

Vir verdere lees: Jaap Durand 1970 Swartman, stad en toekoms, Kaapstad: Tafelberg. JJF Durand en WD Jonker 1976–1989 Wegwysers in die dogmatiek (reekstitel), Deel 1-6. Pretoria: NGKB. JJF Durand 1986 Teks binne konteks. Publikasies van die Universiteit van Wes-Kaapland. Jaap Durand 2010 Dit is amper dag, Vereeniging: CUM. Jaap Durand 2013 Evolusie,wetenskap en geloof, Wellington: Bybelkor. Danie du Toit (red) 2014 Jaap Durand praat oor eenheid, versoening en geregtigheid, Wellington: Bybel-Media.

Sidebar