DWAALLEER

DWAALLEER. Die Griekse woord hairesis beteken basies “keuse” of “opinie” en kom nege keer in die Nuwe Testament* voor. Dit word gesê van verskillende opinies (l Kor 11:19) of ook van verskillende groepe soos die Fariseërs* (Hand 15:5; 26:5), die Sadduseërs* (Hand 5:17) en – uit die perspektief van die Jode* – ook van die Christene* (Hand 24:5, 14). Teologies is “dwaalleer” verkeerde kennis (l Tim 1:3; 6:3; 2 Tim 2:25-26) en pertinent die verwerping van die Goddelikheid van Jesus* (l Joh 2:22; Judas 4).

In ’n sekere sin is die geskiedenis van die kerk* ook die geskiedenis van dwaalleer. Die sewe ekumeniese sinodes van die Vroeë Kerk* tussen 325 en 787, is die stelselmatige formulering van die suiwer leer. Die (gere­for­meerde*) Protestantisme* het in die 16de eeu, in afgrensing teen die Katolieke Kerk* en sekere bewegings binne die Her­vorming* self, sy leer in die Drie Formuliere van Eenheid* saamgevat.

Schleiermacher* (1768–1834) se hante­ring van dwaalleer is van besondere waarde. Die uniekheid van die Christelike gods­diens is dat dit die verlossing (Kyk by: Redding) in Christus* sien, en die suiwerheid is weer hoe dit verstaan word. ’n Sekte* is vir hom die óntoe­reikende verstaan van die verlossing. Dit raak dus sowel die persoon en werk van Jesus as die verstaan van die mens as objek van hierdie verlossing. Dit beteken enersyds dat óf die andersheid (doketisme*) óf die eendersheid (ebionitisme) van Christus oorbeklemtoon word, en andersyds dat óf die mens kan nie (Manicheïsme*) óf hoef nie (Pelagianisme*) verlos te word nie. Binne hierdie sye van die vierkant is die suiwer leer – en alles daarbuite, is dwaalleer.

Dit behoort duidelik te wees dat dwaal­leer veral bestaan waar die dogma* presies geformuleer is. Wanneer waarheid* egter nie as proposisies of noukeurige formulerings nie, maar as ’n ontmoeting en ’n lewenswyse gesien word (Joh 14:6), vervaag die skerp veroordeling van dwaal­leer.

Sidebar