DWAASHEID

DWAASHEID in Bybelse* konteks bete­ken meer as ’n gebrekkige of foutiewe insig, en het meestal ook ’n moreel-etiese verwy­sing. In die Ou-Testamentiese* wysheidslite­ra­tuur* is dwaasheid die teenoorgestelde van wysheid*, en staan dit in noue verband met boosheid en die gevolge daarvan (b­v Spr 10). Dood* en lewe* is egter nie direkte gevolge van onderskeidelik dwaasheid en wysheid nie, aangesien die dood deel van die lewensgang is, maar dwaasheid bestaan in ’n lewenswyse wat teen die gang van die lewe ingaan (Spr 5:23; 8:35-36). In die patriargale* konteks van die Bybel word dwaasheid metafories dikwels aan vroue* en die vroulike gekoppel (Spr 9:13); maar soms word ook wysheid so verbind (Spr 9:1-6). In die Grieks-Romeinse wêreld was daar benewens die vier kardinale deugde ook vier ondeugde, naamlik dwaasheid, losbandigheid, ongeregtigheid en lafhartigheid. Filosowe* en veral die Sinici het groot klem gelê op mense se sinnelose oordeel en misplaaste waardes. Die Joodse wysheidsliteratuur* se invloed blyk ook uit die Nuwe Testament* se uitdaging aan die algemene opvattings oor dwaas­heid en wysheid. Paulus* voer aan dat die boodskap van Christus* se kruisdood* vir Jode* ’n struikelblok is, maar vir heidene of ongelowiges dwaasheid, terwyl dit vir gelo­wige* die krag van God is (1 Kor 1:18-31). (Kyk ook: Wysheid van God; Losban­digheid.)

Sidebar