DWANE, JAMES MATA

DWANE, JAMES MATA (1848-1916) is in Debe-nek naby King Williamstown in die Oos-Kaap gebore, die seun van Mcebuka en Nosali van die Amatinde-stam. Hy het sy opleiding by Healdtown, die Metodiste*-Sendingskool gekry. Hy het die onderwyserkursus in 1869 met lof voltooi en in 1872 as predikant begin studeer. In 1881 is hy georden. Daarna het hy in Oos-Londen, Grahamstad, Kimberley, Mount Coke, Glen Grey en Seplan gedien. Hy is in 1892 Enge­land toe gestuur om fondse in te samel en is baie goed ontvang. Hy wou ’n industriële skool in Seplan bou, maar toe hy teruggekeer het, het die Metodiste-amptenare besluit om die geld in die algemene reke­ning te sit. Dwane was baie ontsteld en toe Mokone in 1893 die Oos-Kaap besoek, het hy by sy Etiopiese Kerk aangesluit. Toe die African Methodist Episcopal Church* (AMEC) in Amerika genooi is om die Etio­piese Kerk oor te neem, is Dwane Amerika toe waar hy as “General Superintendent” van die AMEC in Suid-Afrika aangestel is. Bis­kop Turner het Suid-Afrika in 1898 besoek en ’n aantal leraars georden, maar die rol van “biskop” is aan ’n Amerikaner gegee. Dwane het in 1899 die AMEC verlaat en die Orde van Etiopië gestig. In 1900 is ’n “Compact” met die Anglikaanse Kerk* geteken en die Orde het deel van dié kerk geword. Die konstitusie is in 1908 geteken. Dwane het gehelp om predikante vir die Orde op te lei en het by die Orde gebly totdat hy in 1916 oorlede is.

Vir verdere lees: S Dwane 1989. Issues in the South African Theological Debate. Essays and Addresses in Honour of the late James Matta Dwane. Johannesburg: Skota­ville Publishers. JA Millard 1996. Malihambe, Let the Word spread. Pretoria: Unisa Press. GM Gerhart en T Karis (red) 1977. From Pro­test tot Change: A Docu­mentary History of Politics in South Africa – 1882-1964, Deel 4. Stan­ford: Hoover Institution Press.

 

Sidebar