ECKHART, JOHANNES (MEISTER ECKHART)

ECKHART, JOHANNES (MEISTER ECKHART) (circa 1260–1327/8) is in Hoch­heim in Duitsland gebore, en tree as tiener toe tot die Dominikaanse orde (Kyk by: Dominikane). Hy studeer in Parys en Keulen. Buiten dat hy by tye klas gee in Parys, is hy tien jaar lank professor in teologie* in Straatsburg (1313–1323).

Eckhart is veral om twee redes bekend. Eerstens was hy ’n formidabele prediker wat veral gewild was onder nonne en vroue wat aan die leke-orde van die Beguine behoort het. Tweedens is Eckhart bekend vir sy “es­sen­siële mistisisme*”. Eckhart beskryf in sy werk hoe die siel* na God moet terugkeer. Die siel moet van alles gestroop word totdat net die essensie daarvan oorbly. Die essensie is wesenlik intellektueel. Dít is die kern van die siel waar die Woord* gebore word. Dis waar God en mens gelyk is en mekaar ontmoet.

In 1326 word Eckhart van dwaalleer* aan­­gekla, en deur die aartsbiskop van Keulen veroordeel. Eckhart appelleer na die pous*, maar sterf gedurende die jaar wat daarop volg sonder dat sy saak afgehandel is.

Eckhart se leer was nie werklik onorto­doks nie. Die rede vir sy veroordeling was eerder polities. As Dominikaan het hy vasgesit met die Franciskane wat in sy gebied baie mag gehad het.

 

Sidebar