EDEN, TUIN VAN

EDEN, TUIN VAN is deur God vir die mens aangelê (Gen 2:8), ’n plek vol van oorvloed en prag in die ooste. Die mens moes hierdie tuin bewerk en oppas. Eden word beskryf as ’n bron van water en vrugbaarheid, deurdat die rivier wat daar ontspring, uitvloei en vertak in die Pison*, Gihon*2, Tigris* en Eufraat*. Die tuin van God verskaf dus water aan die bekende wêreld van daardie tyd.

Die twee belangrike bome in Eden was die boom van die lewe* en die boom van alle kennis*. God het grense gestel tussen God en die mens en het die mens en sy vrou verbied om te eet van die boom van alle kennis.

Adam* en Eva* is deur die slang* aangemoedig om God se verbod te minag. Die gevolg van hulle ongehoorsaamheid was dat God hulle uit Eden weggedryf het. Die tuin word daarna bewaak deur gerubs* sowel as ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Die Septuaginta* vertaal tuin met “para­d­ys*”, waarvan die meer populêre verstaan van ’n lushof afgelei is. Eden vorm die eers­te konteks in die Bybel* waarbinne die dra­ma van die verhouding tussen die Godde­like en die menslike afspeel.

Sidebar