EDIK VAN NANTES

EDIK VAN NANTES. Een van die ge­vol­ge van die Reformasie (Hervorming*) was dat daar verskeie reformatoriese kerke naas die Katolieke Kerk* tot stand gekom het. Spoedig het dit ’n vraag geword hoe die verhouding tussen die staat* en kerke* gereël moet word om spanning en bloedvergie­ting te voorkom. In Engeland is die koning tot hoof van die kerk (Church of England) verklaar. In Duitsland is die beginsel van cuius regio eius religio nagevolg – hy wie se gebied dit is, sy godsdiens* sal dit wees. Ná die bloedige gods­diensoorloë van 1562 tot 1598 het Hendrik IV van Frankryk met ’n unieke reëling vir die verhouding tussen kerk en staat na vore gekom, ’n reëling wat in die Edik van Nan­tes van 13 April 1598 beliggaam is. In hoofsaak het die Edik daarop neergekom dat Katolisisme (Kyk by: Katolieke Kerk) die staatsgodsdiens sou wees, maar dat die lidmate van gereformeerde* kerke in Frankryk (die Hugenote*) ook bepaalde regte sou hê. Hulle sou volkome gewetensvryheid hê en die vryheid van eredienste geniet benewens ’n hele reeks an­der voorregte. In wese was dit ’n besondere beliggaming van godsdiensvryheid*. Op 22 Oktober 1685 is die Edik van Nantes herroep. Daarna was alle beoefening van die gereformeerde godsdiens in Frankryk verbode. (Kyk by: Bartolomeusnag.)

Vir verdere lees: P Coertzen 1988. Die Huge­note van Suid-Afrika 1688–1988: Ge­denk­boek by die 300-jarige koms van die Hugenote na Suid-Afrika. Kaapstad: Tafel­berg.

Sidebar