EDWARDS, JONATHAN

EDWARDS, JONATHAN (1703–1758) was ’n Kongregasionalistiese* predikant* en teoloog. Sy visie van die heelal was dié van ’n interafhanklike bestaansisteem wat ’n eenheid vorm. Hy was ’n oortuigde Calvi­nis, maar is ook deur Locke* se sielkunde en Newton* se wetenskaplike benadering beïnvloed. Sy loopbaan in die teologie* het begin terwyl hy nog ’n student aan Yale en ’n pastor in Northampton, Massachusetts, was (1727–1750). Sy teologiese werk het op vier dinge gefokus. Eerstens het hy ferm geglo in godsdienstige herlewing; hy was self by die Groot Herlewing betrokke. Tweedens het hy die gedagte bevorder van die reiniging van die kerk*, waarvolgens net dié wat sigbaar heilig* leef volle status kon verwerf. Weens verwerping oor hierdie kwessie het Edwards by Stockbridge begin sendingwerk doen. Derdens was hy ’n stoe­re kampvegter vir die Calvinisme* teenoor die Arminianisme*. Vierdens het hy ’n om­vangryke werk oor die sistematiese teologie (Kyk by: Dogmatiek) beplan, maar dit is gekelder deur sy aanvaarding van die pos van president van die Princetonse teologiese kweekskool en sy afsterwe in 1758. Van sy werk is eers ná sy dood gepubliseer. Edwards word beskou as die vader van die “Nieu-Engelandse teologie” of die “Nuwe Godgeleerdheid”, wat ge­fo­kus het op inherente verdorwenheid, weder­geboorte*, die mens se vryheid en verantwoordelikheid, en die verhouding van die herskeppende en die onherskeppende tot die kerk.

Sidebar