EED

EED. Die konteks van ’n eed in die Bybel* is dié van verdrag- of verbondsluiting*. Waar­heid* moes in belangrike sake gepraat word. Daarom was ’n eed noodsaaklik. Sweer, eed, vloek* en seën* is ten nouste aan mekaar verbind. “Eed” en “vloek” word soms saam gebruik (Num 5:21-22; Dan 9:11). Die verbreking van ’n eed en misbruik van God se Naam was ’n ernstige saak (Lev 19:12; Eseg 17:13-19; Jer 34:18; Eks 20:7). ’n Eed is met verskillende metodes (Gen 14:22; 15:10,17; 24:2,3) en formules (1 Sam 3:17; 1 Kon 2:23; Rig 8:19; Rut 1:17) afgelê. Toe Petrus* vir Jesus* verloën het, het hy alles gedoen wat ’n eedswering ingesluit het: ontkenning, ’n eed en sweer (Matt 26:69-75).

God lê ’n eed af dat Hy ongehoorsames sal straf (Jer 22:5). Hy verbind Homself met ’n eed aan Abraham* (Gen 22:16-18) en kan die eed nie verbreek nie (Heb 6:13-18). Jesus* verklaar onder eed sy identiteit (Matt 26:63,64). Paulus* lê ’n eed af (2 Kor 1:23).

Niemand mag in die naam van ander gode* ’n eed aflê nie (Jos 23:7; Amos 8:14). Dit is egter beter om geen eed af te lê nie (Matt 5:33-37; Jak 5:12), Christene lewe immers altyd in die Naam van die Here* (Kol 3:17). (Kyk ook: Sweer.)

Sidebar