EENHEID EN VERSKEIDENHEID

EENHEID EN VERSKEIDENHEID. ’n Verskeidenheid fasette, strukture, gebeurte­nisse en samelewingsverhoudings is ineen­geweef in die skepping*, met die mens* as kroon daarvan. Die mens het nie alleen deel aan die fisiese, biotiese en sensitiewe dimensies van die natuur nie, want slegs die mens kan logies redeneer, kultuur* vorm, talig kommunikeer, spaarsamig op­tree, skoonheid waardeer, die reg van ’n medemens eerbiedig, liefhê en glo. Die mens funksioneer bowendien in ’n verskeidenheid samelewingsvorms – van kind, ouer en eggenoot tot by kerklidmaat, vriend, taalgenoot, burger en leerder, sonder om op te gaan in enigeen van hierdie verbintenisse.

Ten spyte van die sonde*-verskeurdheid hou God alles in Christus* in stand. Drogredenasies bly daarom steeds ’n vorm van denke, onbeskofte optrede gebonde aan die eise van sosiale fatsoenlikheid en onregmatige optrede aan eise van reg en geregtigheid*.

Wie egter nie God as die Skepper, On­der­houer en Voleinder van die skeppings­verskeidenheid erken nie, soek êrens in die skepping na ’n plaasvervanger vir God – die herkoms van alle afvallige lewensoriëntasies wat selfs in die wetenskap tot ’n eensydige vergoddeliking aanleiding gee – vergestalt in ismes soos materialisme, psigologisme, historisme of legalisme. Slegs in Christus word die mens in beginsel be­vry van die sonde en opnuut gerig op God-gehoorsame optrede op alle lewensterreine.

 

Sidebar