EENHEID VAN DIE KERK

EENHEID VAN DIE KERK. Soos God in die drie gestaltes van Vader*, Seun* en Heilige Gees* één wese is, so is almal wat deur Christus* in God glo, wesenlik één (Ef 4:3-6). Hierdie eenheid is nie deur die toedoen van die betrokke mense bewerkstellig nie – dit is die werk van die Heilige Gees* (Ef 4:3). Die onderlinge eenheidsband wat daar reeds tussen die gelowiges bestaan, word in die Bybel* treffend uitgebeeld. Die gelowi­ges is almal: ledemate van een liggaam (Rom 12:4,5); een groot huisgesin (Ef 2:19); die volk van God (1 Pet 2:9); een kudde (Joh 10); almal lote van dieselfde wynstok (Joh 15:1-8); die tempel waarin die Heilige Gees woon (1 Kor 3:16). Almal wat deur die werk van die Heilige Gees in die drie-enige God glo, vorm dus reeds ’n geestelike eenheid.

Ongelukkig vertoon die werklikheid van die kerklike samelewing ’n verwronge beeld van die Bybelse ideaal van eenheid. Kerke is verdeeld, versplinterd en verskeurd. Benewens historiese faktore soos belydenis*verskille en geografiese werklikhede, word die verdeeldheid vererger deur selfsug, liefdeloosheid, verkeerde persepsies en politieke belange.

Op Bybelse gronde kan nie toegelaat word dat hierdie toestand voortduur nie. Met die eenheid van die kerk is dit gesteld soos met die heiligheid van die kerk. Die gelowiges, die kerk, is reeds in Christus heilig (Kyk by: Indikatief). Die gelowiges is sodoende gereinig deur die bloed van Christus. Maar die gelowiges moet (Heb 12:4), vir almal om te sien, in hulle lewens­wandel heilig word (Kyk by: Imperatief). Net so is dit ’n opdrag van die Here* om die geestelike eenheid van die kerk nou sigbaar gestalte te gee (Ef 4:1-6). Indien die geestelike (“onsigbare”) eenheid van die kerk genoegsaam was – soos sommige beweer – waarom het Jesus dit dan nodig gevind om so ernstig te bid vir die eenheid van die kerk in die wêreld (Joh 17:21-23)?

Die eenheid onder gelowiges lewer ’n getuienis wat Christus in die samelewing verheerlik. Dit bevorder harmonieuse verhoudings en vrede (Ef 4:3). Dit bied geleent­heid vir onderlinge dienswerk en sorg (Gal 6:2). Deur die communio sanctorum deel gelowiges in mekaar se lyding. Hulle vertroos en bemoedig mekaar. Hulle bid vir en vermaan mekaar. Tot ’n getuienis vir die wêreld!

Ten spyte van die radikale verskille tus­sen mense in die tyd van die Nuwe Testa­ment*, het Jood* en nie-Jood, Griek en nie-Griek, man en vrou, slaaf en vrymens, mekaar deur die geloof* in Christus gevind (Ef 2:11-21; Kol 3:11-21). Gelowiges word opgeroep om hierdie merkwaardige verskynsel van eenheid – ten spyte van natuurlike verskille – na te streef.

In Suid-Afrika is in die 21ste eeu deur verskillende kerke ernstige pogings aangewend om by name rasse-verdeeldheid in die kerke te oorkom en strukture van eenheid en vereniging/hereniging na te streef – so bv die Apostoliese Geloofsending van Suid–Afrika (AGS)*, wat hierin die voortou geneem het, die Volle Evangeliekerk*, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)*, die Verenigende Geref Kerk van Suider-Afrika (VGKSA)* en die NG Kerkfamilie*.

Die uitdaging is dat alle gelowiges en kerke nooit ophou om ter wille van die eer van Christus na mekaar te groei nie. In die proses wis die eenheid nie die verskeidenheid uit nie.

Sidebar