EER EN SKANDE

EER EN SKANDE (of skaamte) is begrip­pe wat deur geleerdes gebruik word wat daarin geïnteresseerd is om meer van die sosiale wêreld van die Bybel* te beskryf en te verstaan. Die terme is veral gebruik om die Mediterreense wêreld van die 1ste eeu nC (die tyd van die Nuwe Testament*) te beskryf, maar is ook van toepassing op die Ou-Testamentiese* samelewing.

Eer is ’n aanspraak op waarde wat sosiaal (met ander woorde: deur ander mense) erken word. Die doel hiervan is om ’n tipe “sosiale rang” aan ’n persoon te gee wat hom of haar in staat stel om op ’n sekere manier op te tree teenoor sy of haar gelykes, meerderes of minderes.

Eer kan “toegeskryf” wees of “verworwe”. Eersgenoemde gebeur met ’n persoon deur in ’n sekere familie gebore te word of tot ’n sekere sosiale groep te behoort. Die genealogieë in die Bybel (1 Kron 1–10; Matt 1; Luk 3 ens) help die leser om die “eerstatus” van die persoon vas te stel. Verworwe eer word verkry deur dit aktief te soek in interaksie met ’n mens se gelykes en dan meestal ten koste van hulle in ’n konteks van uitdaag en reageer. Dawid* is ’n voorbeeld van iemand wat deur sy optrede groot eer onder die mense van Israel* bekom het (bv 1 Sam 17), maar hy verloor eer wanneer Natan* hom teregwys oor Batseba* (2 Sam 11–12).

Skande verwys na ’n persoon of groep se sensitiwiteit om nie eer te verloor nie. Dikwels verteenwoordig vroue die “kollektiewe skande” van ’n groep – ’n tipe positiewe ingesteldheid teenoor die eer van die groep – en is dit mans se verantwoordelikheid om die “kollektiewe eer” van die groep te beskerm.

Sidebar