EERSGEBORENE

EERSGEBORENE. In die Bybelse* tye toe die gesin* en breër familie*konteks die identiteit en status van mense in ’n groot mate bepaal het, was eersgebore seuns (= oudste seuns) in ’n belangrike en bevoorregte posisie. Die ergste en deurslagge­wen­de van die tien plae* wat die farao* oortuig het om die Israeliete uit Egipte* te laat wegtrek, was juis die dood van die eersgeborenes (Eks 12:21-23). In die Ou Testament* is eersgeborenes as heilig* voor God beskou (Num 3:13; 8:17). Eersgeborenes van beide rein (Deut 12:6; Eks 13:12; 34:20) en onrein diere (Lev 27:11-13, 27), is as spesiaal beskou. Die verband tussen gesinslewe in Israel* en die Joodse* volk se verhouding met Jahwe* is op ’n besondere manier ge­simboliseer in die wyding van eersgebore­nes (Eks 13:2, 12-15; 22:28; 34:1-20; Num 3:11-13; 8:16-18; 18:15). Die eersgeborene kon aan­­spraak maak op ’n leidende godsdiens­tige rol in die huishouding, om die wetlike gesag van die gesin oor te neem, en finansieel bevoordeel te word deur ’n dubbele of groter erfporsie (Deut 21:15-17). Die verhou­ding tussen die koning* van Israel en Jahwe word uitgedruk in terme van ’n eersgeborene tot sy pa (Ps 89). Eersgeborene word in die Nuwe Testament* as titel vir Christus* gebruik (Rom 8:29; Kol 1:18; Heb 1:4-6), waardeur sy heiligheid*, besondere erfenis en priester*like rol beklemtoon word.

Sidebar