EERSTE WÊRELDOORLOG

EERSTE WÊRELDOORLOG (1914–1918) – aanvanklik bekend as die Groot Oorlog – se regstreekse oorsaak was die sluipmoord op kroonprins Frans Ferdinand van die Habsburgse Huis deur die Serwiese nasio­nalis, Gavrillo Princip. Dit is grotendeels meegebring deur die militêre verpligtings van die Europese verdragstelsel sedert 1905 om ’n magsbalans te verseker.

Al die deelnemende nasies aan die oorlog het vanweë bepaalde eiebelange tot die oorlog toegetree: Oostenryk-Hongarye ver­klaar in Julie 1914 oorlog teen Serwië; Rusland mobiliseer vanweë ’n moontlike aanval deur Oostenryk-Hongarye en Duits­land kom sy bondgenoot Oostenryk-Hon­ga­rye te hulp om op sy beurt weer ’n Rus­siese inval te verhoed. Vanweë Frankryk se bondgenootskap met Rusland tree hy ook tot die oorlog toe. Duitsland val ’n neutrale België binne om sy wesfront te versterk, terwyl Brittanje wat België se neutraliteit gewaarborg het, aan laasgenoemde se kant deelneem. Turkye en Bulgarye skaar hulle by Oosten­ryk, maar Japan, Italië en Roemenië ondersteun weer die Geallieerdes teen die Sen­­trale Magte. Die VSA se deelname volg in 1917 nadat Duitse agente in Meksiko begin inmeng het en van die Duitse duikbote die Amerikaanse skepe aangeval het.

In die weste het die Wêreldoorlog grootliks uit ’n statiese loopgraafoorlog bestaan wat noodwendig groot lyding en verliese meegebring het. Aan die oosfront word Rusland deur die Sentrale Magte terugge­dryf. Die gepaardgaande rewolusie in Rus­land lei tot vrede met Duitsland en die oosfront stort heeltemal in duie. Pogings om Rusland uit die weste te ondersteun met invalle deur die Dardanelles word by Galli­poli gestuit. Aan die Balkanfront dring die Sentrale Magte tot in die suide deur. Die Geallieerdes breek uiteindelik van Salonika af deur die Bulgaarse verdedigingslinie en bereik die Donau teen Oktober 1918. Die Italiaanse magte word vir twee jaar aan die Isonzorivier vasgekeer voordat hulle die Sentrale Magte in 1918 by Vittorio Veneto verslaan. Daar was ook gevegte in die Midde-Ooste, die Duitse kolonies in Afrika en die Stille Oseaan. Die Duitse duikboot- en tenkaanvalle was ’n nuwe manier van oorlogvoering wat veral die Britse vloot swaar getref het. Die Amerikaanse toetrede het uiteindelik die Duitsers in hulle loopgrawe teruggedryf wat tot ’n wapenstilstand op 11 November 1918 gelei het. Die oorlog is eers later deur ’n reeks vredesverdrae met elkeen van die vegtende lande beëindig. Die belangrikste hiervan was die Verdrag van Versailles in 1919 wat aan Duitsland swaar strawwe en finansiële verpligtings opgelê het. Dit het op sy beurt bitter gevoelens geskep wat later tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog* sou bydra.

Die Eerste Wêreldoorlog was verrei­kend omdat dit die einde van drie eeu-oue ryke meegebring het – die Ottomaans-Turkse Ryk, die Habsburgse Ryk en die Duitse Keiserryk. Terwyl state met bevolkings wat oorwegend as “Christelik” beskou kon word, in sommige gevalle bondgenote was van ander state wat min of meer dieselfde godsdienstige samestelling gehad het, was daar ook state met bevolkings wat ánder godsdienste aangehang het, wat skouer aan skouer met “Christelike” lande geveg het. Maar Christen het wel ook bloedig teen Christen te staan gekom, en die vyandskap wat in die Eerste Wêreldoorlog tussen twee nominaal Christelike nasies – Duitsland en Brittanje – posgevat het, sou 21 jaar later in die Tweede Wêreldoorlog opnuut uitbars en weer tot onmeetlike ellende en verlies aan lewens lei. Die kerk* in haar verskillende gestaltes in dié twee lande – by name die Katolieke Kerk*, die Lutherse Kerk* en die Church of England (Anglikaanse Kerk*) – het maar ’n baie beskeie rol gespeel om oorlog te probeer voorkom of uiteindelik vrede te help bewerkstellig.

Sidebar