EFESE

EFESE was een van die grootste stede in die antieke en die belangrikste kommersiële stad en hoofstad van die Romeinse* provinsie Asië*. As hawestad naby die Kaistorrivier se monding, is dit strategies geleë aan die trans-Anatoliese hoofweg na Rome* en die sentrale punt vanwaar af­stande bereken is. In die 10de eeu vC word die oorspronklike Anatoliese inwoners aangevul deur Ioniese (Griekse) koloniste maar hulle behou Efese se moedergodin en vrugbaarheidsgodin onder die Griekse naam “Artemis*” (“Diana” volgens die Romeine). Die stad word in die Persiese* tyd geskuif sodat die tempel van Artemis sentraal geleë is. Hierdie tempel met 100 massiewe pilare was bekend as een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Artemis word dikwels met talle borste uitgebeeld. Daar was ook ’n groot beeld van Artemis wat glo uit die hemel geval het (Hand 19:35). Die silwersmede in Efese floreer finansieel op die Artemis-verering (vgl Hand 19:26-27).

Die teater wat ongeveer 24 000 mense kon huisves, is vandag nog te sien. Ook die pragtige hoofstraat wat afloop van die teater na die hawe (10,5 m breed en 8 km lank) asook talle ander geboue soos teaters, biblioteke, markpleine, fonteine, waterlei­dings, gimnasiums en baddens het behoue gebly en is deur talle argeologiese* opgra­wings sedert die 18de eeu blootgelê.

Onder Romeinse beheer geniet ’n groot groep Jode* in Efese lank ’n bevoorregte po­si­sie. Paulus* besoek Efese op sy tweede reis (Hand 18:19-21) en bring meer as twee jaar tydens sy derde reis (Hand 19:8-10) daar deur. Hiervandaan versprei die evangelie* na Kolosse en die ander stede van die Lykusvallei (Kol 1:6-7; 2:1). Vanuit Efese skryf Paulus aan die Korintiërs* (1 Kor 16:8). Timoteus* bly daar agter ná Paulus se ver­trek (1 Tim 1:3) om die werk daar te konsolideer. Volgens Ireneus en Eusebius* is Efese later die tuiste van Johannes*2 die apostel*. In Op 2:1-7 word die eerste van die sewe briewe* aan die gemeente in Efese gerig. Die derde belangrike ekumeniese konsilie* vind in 431 nC in Efese plaas.

Vir verdere lees: A B du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament II. Pretoria: NGKB.

Sidebar