EFESIËRS, DIE BRIEF AAN DIE (BY­BEL­BOEK)

EFESIËRS, DIE BRIEF AAN DIE (BY­BEL­BOEK). Hierdie brief* word saam met Filippense*, Kolossense* en Filemon* as Paulus* se “Gevangenskapbriewe” geklassifiseer. In party van die oudste en beste manuskripte van Efesiërs word die naam “Efese” nie in 1:1 genoem nie. Daarom vermoed kenners dat die brief oorspronklik nie spesifiek vir die gemeente* in Efese bedoel was nie, maar eerder ’n algemene omsendskrywe aan verskeie gemeentes was. Kenners verskil oor die situasie waar­binne die brief ontstaan het. Sommige aanvaar dat Paulus die skrywer van die brief was (Ef 1:1) en dat hy dit omstreeks 62 nC tydens een van sy gevangenskappe geskryf het. Drie moontlikhede word genoem: Efese, Sesarea* of Rome*, met Rome die gewildste keuse. Omdat daar baie verskille tussen Efesiërs (en Kolossense) en die ander Paulus-briewe ten opsigte van taal, styl en teologie* is, meen ander kenners egter dat die brief nie deur Paulus self geskryf is nie, maar wel ná sy dood in die geledere van sy volgelinge (die sogenaamde “Pauliniese skool”) ontstaan het. Indien dié standpunt korrek is, is die brief in ’n later stadium ge­skryf (tussen 70 en 90 nC).

Die brief kan soos volg ingedeel word: briefaanhef (1:1-2); lofprysing* aan God vir wat Hy deur Christus* vir gelowiges* gedoen het (1:3-14); ’n aangrypende gebed* vir die lesers (1:15-23). Vervolgens handel 2:1–3:21 oor die gelowiges se eenheid in Christus: God red mense uit genade* en nie op grond van wat hulle self presteer nie (2:1-10); sy genade sluit ook die heidene* in sodat heidene en Jode* één geword het (2:11-22); dit is Paulus se taak om hierdie evangelie* aan die heidene te verkondig (3:1-13); ’n gebed en danksegging aan God (3:14-21). Daarna vorm 4:1–6:20 ook ’n eenheid en is toegespits op die praktyk van die Christelike lewe. Sake waaraan aandag ge­gee word: gelowiges se lewe moet in oor­een­stemming met hulle roeping* wees; hulle moet eenheid nastrewe; hoe die liggaam van Christus (die kerk*) opgebou moet word; die nuwe lewenstyl wat gelo­wiges moet openbaar; hoe ’n mens prakties binne die huishouding van destyds as ’n Christen* moes optree, en die wapenrus­ting van die Heilige Gees*. Die slot van die brief word gevorm deur 6:21-24.

Die boodskap van Efesiërs fokus hoofsaaklik op die kerk. Een van die belangrike beelde wat vir die kerk in Efesiërs gebruik word, is dat die kerk die liggaam van Chris­tus is waarvan Hy die Hoof* is. In Efesiërs val die klem nie soseer op die indiwiduele gemeentes nie, maar op die kerk as ’n universele grootheid (1:22; 3:10; 5:23-32) waar­oor Christus regeer. Die feit dat die heidene ook deelgekry het aan God se belof­tes*, word beskou as een van die kerna­s­pekte van God se plan, of van die “misterie” (Ef 3:3 – 1983-Afrikaanse vertaling; 1933-Afri­kaanse vertaling: “geheimenis” en “verborgenheid”). Volgens Efesiërs is die kerk ook die plek waar ’n nuwe mensheid geskep word, waar werklik vrede* heers (2:15-16) en waardeur “die ryke verskeidenheid” van God se wysheid* bekend gemaak word “aan elke mag* en gesag in die hemel­*ruim” (3:10-11).

Vir verdere lees: JH Roberts 1983. Die Brief aan die Efesiërs. Kaapstad: Lux Verbi.

 

Sidebar