EGBREUK (OWERSPEL)

EGBREUK (OWERSPEL) beteken om ge­slags­gemeenskap te hê met iemand an­ders as jou huweliksmaat. Dit behels die verbreking van die huweliksbeloftes van getrouheid, vertroue en toewyding. Volgens Jesus* kan egbreuk ook die vorm van gedagtes en be­geertes aanneem (Matt 5:27-30).

Party mense bepleit die instelling van “oop” huwelike, wat seksuele vryheid as uitgangspunt sal hê. Die Bybel* sowel as die Chris­telike tradisie ver­werp egter ontrou én eg­breuk; die twee word eintlik nie onderskei nie (sien Eks 20:14; Deut 22:22; Mark 10:19). Dit is so dat Jesus genade* betoon het aan ’n vrou wat in owerspel betrap is, maar Hy het haar óók beveel: “… moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Joh 8:1-11). Op grond van Matt 5:31-32 beskou party Christene huweliksontrou as ’n regmatige grond vir egskeiding.

Christene verwerp egbreuk omdat dit die eenheid tussen man en vrou (die in­tieme liggaamlike en emosionele ver­trou­ens­verhouding; Gen 2:24) wat deur die huwelik* tot stand gebring is, verbreek; dit kan op vervreemding of selfs egskeiding* uitloop. Egbreuk hou ook negatiewe ge­volge in vir die getroude paartjie en die ander seksmaat (bv emosionele trauma of die risiko van ’n seksueel oordraagbare siekte), sowel as vir ander mense (kinders ly daaronder, familie- en ander betrekkinge word getref).

Sidebar