EGIPTE

EGIPTE is ’n land in Noord-Afrika. Die inwoners was in die tyd van die Bybel* hoofsaaklik beperk tot die waterryke Nylvallei en het hoofsaaklik bestaan uit kleinboere, handelaars en ambagsmanne, met ’n klein groe­pie ryk elite. Die ekonomie en landbou was ten nouste verbind met die jaarlikse oorstroming van die Nyl*, wat die besproeiingskanale gevul en voedingstowwe oor die landerye versprei het. Die Egiptenaars was van nie-Semitiese oorsprong en in ’n mate kultureel en geografies afgesonder van die ouer beskawings in Mesopotamië*.

Met verloop van tyd is die Egiptiese hoofstad gereeld rondgeskuif. Nuwe farao’s* het dikwels uit ander dele van Egipte gekom, of verskillende godsdienstige oortuigings gehad en daarom hulle eie nuwe hoofstad gebou. Die antieke hoofstad Tebes was in Bo-Egipte naby die vallei van die konings geleë. Akhetaton (el-Amarna) en Hermopo­lis was meer sentraal in Middel-Egipte, terwyl Memfis en Heliopolis net suid van die delta (naby die huidige Kaïro) was. Die Hiksos*-hoofstad Avaris was in die oostelike deel binne die delta geleë.

Geskiedenis: In antieke tye het die Egiptiese ryk bestaan uit twee duidelik onderskeibare dele, naamlik Bo-Egipte (die suidelike deel, aan die bo-lope van die Nylrivier) en Onder-Egipte (die noordelike deel), wat onder andere die Nyldelta inge­sluit het. Die meeste Egiptiese farao’s het oor beide dele van Egipte regeer. In die voor-dinastiese periode was Egipte verdeel in verskeie kleiner koninkryke.

Nadat die land in een groot ryk verenig is, het verskeie dinastieë oor Egipte regeer. In die periode van die Ou Koninkryk (2700–2200 vC) het Egipte sy eerste bloeityd­perk beleef met ses dinastieë wat in dié tyd oor Egipte regeer het. Tydens die derde en vierde dinastie is die groot piramides van Giza asook die sfinks gebou.

Die Middel-Koninkryk (2000–1780 vC) was die tweede periode van opbloei en het gestrek vanaf die twaalfde dinastie tot die tydperk van die Hiksos* (1780–1570 vC). Die Hiksos was vreemde en gehate oorheersers van nie-Egiptiese oorsprong, wat hulle hoofstad Avaris in die verre noorde (Nyldelta) gebou het. Reeds in 1600 vC het die inwoners in die suide (Tebes) teen die Hiksos gerebelleer en in 1570 vC is die Hiksos se hoofstad vernietig en is hulle finaal deur farao’s van die 18de dinastie uit Egipte verdryf. Die 18de Egiptiese dinastie het ook die periode van die Nuwe Koninkryk (1570–1150 vC) ingelui.

Omdat Palestina* op die hoofroete tussen Egipte en Mesopotamië geleë was, het die beheer oor Palestina gereeld gewissel tussen die ryke in dié twee gebiede. Tydens die tydperke wat Egipte invloed oor Palestina uitgeoefen het, het daar heelwat kulturele beïnvloeding plaasgevind en was daar noue handelsbetrekkings tussen die twee. Dit was waarskynlik aan die einde van die Hiksos-periode en aan die begin van die Nuwe Koninkryk, dat sommige Israelitiese stamme as slawe in Egipte ge­werk het.

Egipte was dikwels ’n toevlugoord vir die inwoners van Palestina tydens droogte en politieke onrus en was vir ’n groot deel van die geskiedenis ’n belangrike bondgenoot van die koninkryke van Juda* en Israel*. Met die aanvalle teen Israel en Juda van die Assiriese* en Babiloniese* ryke het talle Jode* na Egipte gevlug (vgl Jer 43) en hulleself in Egipte gevestig. Hulle het die grondslag gevorm van die latere groot Joodse kolonies wat tydens die Grieks-Ro­meinse periode in Egipte gebly het.

Nadat Aleksander*1 die Grote Egipte in 322 vC oorgeneem het, het hy die be­roemde hawestad Aleksandrië in die Nyldelta tot stand gebring. Ná Aleksander se dood het een van sy generaals, Ptolomeus, beheer oor Egipte verkry en die Ptolemeërs het in Egipte geheers tot met die Romeinse oorname in die eerste eeu vC.

Egiptiese godsdiens: Die antieke Egiptiese godsdiens is om die volgende redes baie kompleks: 1. Die Egiptiese panteon het uit ’n groot aantal gode bestaan. 2. Verskillende gode en groepe van gode is op verskillende plekke gedien. Afhangende van ’n spesifieke farao se oortuigings, is verskillende gode in verskillende tye beklemtoon. 3. In sommige gevalle het verskillende gode saamgesmelt en het ’n “nuwe” gekombineerde of sinkretistiese godheid ontstaan, bv Atum-Ra.

Vyf hoofgroepe van gode is gedurende die Egiptiese geskiedenis met tempels in die volgende plekke geassosieer: 1. By Heliopolis is ’n groep van nege gode gedien met die songod Atum (later Atum-Ra) as die belangrikste. 2. By Hermopolis en el-Amarna is hoofsaaklik die songod Ra aanbid. 3. By Elefantine was Khnum die hoofgod, saam met twee ander gode. 4. By Tebes is Amun en twee ander gode aanbid. 5. In Memfis was die ou Egiptiese god Ptah die hoofgod.

In die Amarna-periode (1300 vC) het Amenhotep IV ’n grondige hervorming van die Egiptiese politeïsme* (veelgodedom) onderneem. In ooreenstemming met die teologie van die priesters by Heliopolis het hy afgesien van die komplekse sisteem van velerlei gode ten gunste van die enkele songod Ra. Dit was ’n teruggryp op die godsdiens van die Ou Koninkryk en is afgedwing in alle dele van Egipte. Ten einde enige vorm van sinkretisme* te beveg, het Amenhotep IV die ou prysnaam van Ra, naamlik Aton, heringevoer en sy eie naam van Amenho­tep (’n verwysing na Amun) verander na Ikhanaton (’n verwysing na Aton). Hy het ook ’n nuwe hoofstad Akhetaton (Tel el-Amarna) gebou.

Die godsdiensrevolusie en gedwonge monoteïsme* tydens Ikhanaton se bewind, het groot onmin onder die priesters van ander tempels veroorsaak. Ná die tyd van Ikhanaton, het die priesters van Amun (Tebes) in opstand gekom en sy hervor­mings omvergewerp. Na ’n periode van chaos het Tutankhaton farao geword. Hy het die opstand van die Amun-priesters ge­steun en sy hoofstad teruggeskuif na Tebes toe en ook sy eie naam verander na “Tutan­khamun” (’n verwysing na Amun). Toe Tutankhamun op 18-jarige ouderdom dood is, het die Amun-priesters van Tebes uit dankbaarheid hom met groot weelde in die vallei van die konings begrawe. Omdat sy grafkelder goed versteek was en daarom nooit geplunder is nie, het die ontdekking daarvan in 1922 deur Howard Carter ’n groot opskudding veroorsaak.

Sidebar