EGOÏSME

EGOÏSME. Op die vraag: “Hoe behoort ons te leef?” antwoord (etiese) egoïsme: Streef jou eie belange na. In ’n kru, alle­daagse betekenis is ’n egoïs iemand wat self-gesentreerd en selfsugtig optree, en ongevoelig staan teenoor die belange van ander – wat normaalweg as oneties be­oordeel word, omdat moraliteit* (en Christelike liefde*!) eerder die teenoorgestelde van ons vereis: om ander in ag te neem.

In ’n meer filosofiese betekenis argumenteer psigologiese egoïsme dat alle mense ten diepste optree in hulle eie beste belang, en dat, ten spyte van ooglopende voorbeelde van selfopofferende optrede van mense, eiebelang steeds ten grondslag daarvan lê. In An Inquiry into the Nature and Causes of the Wealth of Nations (1776) argumenteer Adam Smith dat eiebelang in die ekonomiese sfeer behoort te geld: As elke entrepreneur die vryheid het om sy eie belange na te streef, sal die “onsigbare hand” van die vrye mark verseker dat die algemene welsyn bevorder word. Onder die invloed van Milton Friedman het hierdie idees in die 20ste eeu wye inslag gevind in die neo-klassieke ekonomiese teorie, alhoewel dit tans sterk betwyfel word of die vrye mark werklik die omstandighede skep waarin vrye indiwidue die algemene welsyn be­vorder deur hulle eie belang na te streef.

Vir verdere lees: K Baier 1991. “Egoism” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers. G Meredith 1968. The Egoist. Harmonds­worth: Penguin.

Sidebar