EICHRODT, WALTHER

EICHRODT, WALTHER (1890–1978) studeer in Bethel, Greifswald en Heidel­berg, Duitsland. Sy eerste proefskrif het hy in 1914 voltooi oor die bronneprobleme in Genesis*. Sy tweede proefskrif is in 1918 voltooi oor die tema van hoop as ewige vrede. Sedert 1922 doseer hy aan die Universiteit van Basel, Switserland, waar hy in Ou Testament* en godsdiensgeskiedenis gespesialiseer het. Van 1953 tot met sy aftrede in 1961 het hy as rektor van dié universiteit gedien.

Hy het ’n hele aantal boeke en kommentare die lig laat sien. Sy kommentaar oor Esegiël* en boek oor antropologie* in die Ou Testament is goed bekend, maar die invloedrykste werk uit sy pen was sy Old Testament Theology (1933). Met hierdie werk wou hy die impasse oorkom waarin Ou-Testamentiese teologie* beland het ná die opkoms van die historiese kritiek* aan die einde van die 19de eeu. Aan die een kant wou hy die tradisionele kapstok-metode om die teologie* van die Ou Testament te bedryf, teenstaan. Terselfdertyd wou hy die historistiese benadering wat die teologiese inhoud van die Ou Testament in godsdiensgeskiedenis verander het, kritiseer. Hy stel ’n metode van beskrywing voor waarin hy historiese en sistematies-teologiese beginsels met mekaar kombineer ten einde ’n omvattende beeld te gee van die Ou-Testamen­tiese geloof.

Nog ’n prominente kenmerk van sy Ou-Testamentiese teologie was die sterk klem op die verbondsbegrip (Kyk by: Verbond). Hy argumenteer dat die verbondsbegrip ’n uitdrukking is van die proses waardeur die vorming van Israel* se geloof ten diepste plaasgevind het. Hoewel hierdie begrip se­kerlik prominent in die Ou Testament is, is Eichrodt sterk gekritiseer dat hy die teologiese inhoude met die keuse van hierdie sentrum oorvereenvoudig het.

Sidebar