EIENSKAPPE VAN GOD

 

EIENSKAPPE VAN GOD. In die verlede het teoloë sekere beginsels gebruik om die eienskappe van God te formuleer. Die een is om by die mens se eienskappe te begin. Maar omdat God anders as die mens is, het hulle die mens se eienskappe aangepas om by God te pas. Omdat God groter is as ons, is sekere van ons eienskappe verabsoluteer (via eminentiae): Ons het mag, dan is God almagtig, ons is teenwoordig, dan is God alomteenwoordig, ons het kennis, dan is God alwetend. En omdat God anders is as ons, is ander eienskappe genegativeer (via negationis): Ons is eindig, God is oneindig, ons is sterflik, God is onsterflik, ons is ver­anderlik, God is onveranderlik. Die beginsel hieragter was dat ons van die bekende na die onbekende redeneer: van ons na God. Maar dit beteken dat ons dink hoe God is. Maar ons denke bring ons by allerlei vreemde probleme. As God almagtig is, is die vraag of God ’n klip kan maak wat so swaar is dat God dit self nie kan optel nie. Interessant, maar sinloos, want dit is totaal anders as wat daar in die Bybel* oor God gepraat word

As ons na die boodskap van die Bybelmense luister wat God beleef het, kry ons ’n ander prentjie. En só moet ons dan oor God dink.

In die Bybel leer ons dat God betrokke is by mense: by die wêreld*, by Israel*, en in Jesus* by ons: Hy het lief, Hy gee om, Hy voorsien, Hy neem voortdurend inisiatiewe. Maar ons leer ook dat God ruimte laat vir mense, wat beteken dat mense sy wil kan oortree. En juis dan sien ons hoe geduldig God is, wat beteken dat Hy vry is om by ons betrokke te bly al stel ons Hom teleur. Dit is maar net ’n baie klein deeltjie van die ryk prentjie wat ons in die Bybel oor God kry.

Sidebar