EINSTEIN, ALBERT

EINSTEIN, ALBERT (1879–1955) is aan die einde van die 20ste eeu deur die Ameri­kaanse tydskrif Time as “die man van die eeu” beskryf.

Einstein het in München, Duitsland, grootgeword as die seun van Joodse ouers. Die gesin verhuis later na Italië en hy vol­tooi sy skoolloopbaan in Switserland. Na­dat hy die toelatingseksamen vir ’n kursus in ingenieurswese gedruip het, bekwaam hy hom as wiskunde-onderwyser. Hy kon nie ’n vaste onderwyspos kry nie en werk vanaf 1902 as ’n klerk in die patentekantoor in Bern.

Tydens sy verblyf in Bern publiseer hy in 1905 een van sy belangrikste geskrifte. Dit handel oor die besondere relatiwiteits­teorie en berus op die beginsel dat die snelheid van lig konstant bly, ongeag die snelheid waarmee die waarnemer beweeg, en dat tyd stadiger verloop hoe vinniger die waarnemer beweeg. In 1907 toon hy aan dat materie en energie na mekaar herleibaar is. Dit druk hy uit met die formule E=mc2 (E: energie; m: massa; c: lig se snelheid). Sy algemene relatiwiteitsteorie publiseer hy in 1915. Hy toon aan dat aan­trek­kingskrag eintlik ’n distorsie van die ruimte is.

Nadat hy sy doktorsgraad in 1905 behaal het, is hy vanaf 1908 agtereenvolgens do­sent in teoretiese fisika in Bern, Zürich, Praag en Berlyn. Einstein is op besoek aan die VSA toe Hitler* in 1933 in Duitsland aan die bewind kom, en hy besluit om in die VSA te bly. Hy word as professor in Princeton aangestel.

’n Konsekwensie van Einstein se teorieë is dat die heelal ’n begin moes gehad het – ’n gedagte wat hy aanvanklik nie wou aanvaar nie. Later erken hy dit as sy grootste flater. Alhoewel ’n agnostikus*, vra hy nogtans: “Het God ooit ’n keuse gehad om nie die heelal te skep nie?”

Einstein het in 1921 die Nobelprys vir fisika vir sy werk oor die foto-elektriese effek ontvang. Ná die Tweede Wêreld­oor­log* beywer hy hom vir wêreldvrede. In 1952 is die presidentskap van Israel*7 hom aangebied, maar hy het dit van die hand gewys.

Sidebar