EKKLESIA

EKKLESIA. Daar is ongeveer 114 verwy­sings in die Nuwe Testament* waar die ge­meente* of die gemeenskap van die ge­lowiges* beskryf word. Die woord ekklesia kom waarskynlik uit die Septuaginta*, die Griekse* Ou Testament*, waar dit die He­breeuse* qahal weergee. Ekklesia is moontlik afgelei van die Griekse woord kaleõ wat “roep” beteken. Die kerk* is dan God se ge­roepenes (uit die wêreld*). Ten grondslag hieraan lê die gedagte van ’n vergadering of ’n gemeenskap. Volgens die Ou-Testamentiese verbond* sou God uit Abraham* ’n eie volk vir Hom na vore laat kom wat ’n seën vir alle ander volke sou wees. Israel*, as die verbondsvolk, was egter ontrou aan die verbond, en so het die verwagting aan ’n nuwe verbondsvolk gegroei. Die Nuwe-Testamentiese kerk hou dus verband met die Ou-Testamentiese Messiasver­wagting*. Wanneer Jesus* in Matt 16:18 van “my gemeente” praat, wys dit op die ver­vulling van die Ou-Testamentiese verwag­ting: By die Messias* behoort ’n gemeente. Op Pinksterdag* kry dit verdere beslag wan­neer ’n gemeenskap gelowiges uit alle nasies vergader word. Daarom is die kerk ook ’n skepping van die Gees*.

Paulus* vestig hierdie begrip deur dit te gebruik vir sowel die plaaslike gemeente as die kerk in die algemeen, saamgestel net op grond van geloof in Christus*. Menslike skeidsmure moet nou afgebreek en eenheid beklemtoon word. Met die term “ge­meente (volk) van God” wil Paulus beklemtoon dat die kerk ’n voortsetting is van die Ou-Testamentiese Godsvolk, maar nou as die ware Israel*6. Met die term “gemeente van Christus” of “liggaam* van Christus”, wil hy benadruk dat die kerk gegrond is op Christus se Persoon en heilswerk. Die kerk is geheel en al afhanklik van Christus as Hoof vir die kerk se voortbestaan. Christus as die Here* is die hoeksteen waarop die kerk gebou is. As “’n koninklike priesterdom” is die kerk die voorwerp van God se liefde* (Deut 7:7-8). As uitverkore en heilige* volk, moet dit God se deugde in die wêreld verkondig. Ander beelde vir die kerk om die kerk se menigvuldige roepings te benoem, is: sout van die aarde; lig van die wêreld; ’n stad op ’n berg; ’n kudde; lote van die wingerdstok; vriende van Jesus; ’n familie, ’n sinagoge, ens.

Sidebar