EKKLESIOLOGIE

EKKLESIOLOGIE. Letterlik beteken dié woord “die leer oor die kerk” en stam van die Griekse woord ekklesia* af, wat “uitgeroep” beteken. Ekklesiologie as teologiese dissipline bestudeer die kerk* – die ont­staan, bestaan en voortbestaan daarvan. Die vakgebied word normaalweg onderver­deel in kerkgeskiedenis* en kerkreg*.

Die woord “kerk” kan etimologies dalk van kyriake afstam, wat “behorende tot die Here” beteken. Dit is selfs moontlik om die Latynse woord circa wat “rondom” (sirkel) bete­ken, as agtergrond te sien (Barth*).

Alhoewel verskil van mening bestaan of “kerk” slegs ’n Nuwe-Testamentiese* of ook ’n Ou-Testamentiese* aangeleentheid is, en of dit eerder Christologies* (in verband met Christus*) as Pneumatologies* (in verband met die Heilige Gees*) verstaan moet word, blyk dit verantwoordbaar te wees om kerk te omskryf as die: 1. volk van God (1 Pet 2:9); 2. Messiaanse gemeenskap (Luk 12:32); 3. liggaam van Christus (Ef 1:23), en 4. ge­meenskap van die Gees (Joh 14:18).

Die Belydenis van Nisea* sien die kerk as een, heilig, algemeen en apostolies. Calvyn* bestempel die merktekens van die ware kerk die suiwere verkondiging van die Woord* en die regte bediening van die sa­k­ra­mente*, terwyl die Nederlandse Ge­loofs­belydenis* die tug* byvoeg. Op grond van veral Joh 17:21 en Ef 4:4-6 word deesdae ook pertinente klem op die ekumene* geplaas.

Vir verdere lees: V-M Kärkkäinen 2002. An Introduction to Ecclesiology. Ecumeni­cal, Historical & Global Perspectives. Downers Grove: IVP. A Dulles 2002. Models of the Church. New York: Image Books, Doubleday. H. Küng 1968 The Church. Londen: Search Press

Sidebar