EKOLOGIE EN GODSDIENS

EKOLOGIE EN GODSDIENS. In ’n be­roemde opstel met die titel “The Historical Roots of our Ecological Crisis” (1967) het die Amerikaanse historikus Lyn White die blaam vir die ekologiese krisis vierkantig voor die deur van die Joods*-Christelike* tradisie gelê. Hy reken dat die logika van oorheersing alreeds in Gen 1:28 aanwesig is. In vergelyking met natuurgodsdienste – waar berge, bosse, bome, riviere en mere tipies as heilig* en onaantasbaar beskou is – word die mens hier eerder opgeroep om die aarde* te “onderwerp” en daaroor te “heers”.

Die ekologiese krisis bring kerke* voor ’n nuwe “oomblik van waarheid” te staan, ’n geleentheid vir selfondersoek. Ekologiese teologie* kan beskou word as ’n wydverspreide eietydse vorm van teologie waarin die kulturele patrone wat onderliggend is aan die ekologiese krisis asook die Chris­telike tradisie self krities in oënskou ge­neem word.

Dit is tans duidelik dat ’n ekologiese transformasie alleen moontlik sal wees as die rol van godsdienstige tradisies – waarin mense se diepste oortuigings in die spel kom – hierin erken word. Daar bestaan talle bydraes – vanuit verskillende geogra­fiese en klimaatstreke, kulture, taalgroepe en godsdienstige tradisies – waarin hierdie taak konstruktief aangepak word. In die (Suid-)Afrikaanse konteks kan breedweg vyf benaderings in dié verband onderskei word:

  1. Sommige bydraes fokus op natuurbewaring en die beskerming van wildernisgebiede teen verdere stedelike, industriële en landbou-ontwikkelings. Hierdie benade­ring word meermale godsdienstig gerug­steun deur ’n sterk klem op verantwoordelike rentmeesterskap*, tipies met ’n beroep op Gen 1:28 en 2:15. Die probleem is dat mense hulle roeping om te “heers”, nie nagekom het nie.
  2. Elders val die klem op landelike ekologiese probleme rondom ontbossing, grond­erosie en waterbronne. Die behoeftes van arm gemeenskappe aan genoeg kos word deur ’n klem op volhoubare landbou aangespreek. Dit word tipies gerugsteun deur ’n herwinning van tradisionele ekologiese wysheid (in Afrika-kulture) waarin die balans tussen mens en natuur benadruk word. Indien die ekologiese balans versteur word, bring dit lyding vir die mens en ander spesies teweeg.
  3. Soms val die klem op volhoubare ontwikkeling. Hier word ekologiese pro­bleme gewyt aan die skaarste aan hulpbronne, gebrekkige opvoeding en vaardig­hede, volhoubare tegnologie, beskikbare ka­pitaal en doeltreffende bestuurstelsels. Be­volkingsgroei en die behoeftes van die armes kan alleen hanteer word deur voortgesette ekonomiese groei en ontwikkeling, maar hierdie ontwikkeling moet ook volhoubaar wees. Dit is die taal van entrepreneurs, besigheid en industrie, maar ook van regeringsinisiatiewe rondom heropbou en ontwikkeling (RDP, GEAR, NEPAD). Hierdie “upward social mobility” en die verbruikers­kultuur wat daarmee saamhang, word soms godsdienstig verklank deur ’n wel­vaartteologie* waarvolgens godsdienstige affiliasie ook materiële seën sal meebring – hier en nou.
  4. Vir ander gaan omgewingsorg oor die manier waarop mense deur die (stedelike) omgewing waarin hulle woon en werk, beïnvloed word, en omgekeerd. Hier word gekyk na die omstandighede van werkers op plase, fabrieke, myne en kantore. Daar word gekyk na die ekologiese probleme wat mense in krotbuurte ervaar (lugbesoe­deling, geraasbesoedeling, higiëne, gebrek­kige vullisverwydering en oorbevolking). Die fokus is op die slagoffers van ekologiese probleme, met spesifieke verwysing na die lot van armes, gekleurdes, vroue, kinders, bejaardes en ook bedreigde spesies. “Ekolo­giese rassisme” dui daarop dat gekleurdes meermale die slagoffers is van ekologiese probleme. “Ekofeminisme” wys daarop dat dieselfde logika in die patriargale oorheer­sing (Kyk by: Patriargale stelsel) van vroue en van die natuur aanwesig is. Daar word van omgewingsgeregtigheid gepraat eerder as van natuurbewaring. Dit word gerugsteun deur ’n klem op mense­regte (omgewingsregte).
  5. Die tekortkomings van elkeen van hierdie benaderings het ’n klimaat van nuwe fermentasie meegebring waarin daar binne die konteks van gemeenskapsorga­nisasies, nie-regeringsorganisasies en geloofs­groepe gesoek word na ’n nuwe visie vir ’n volhoubare samelewing en waarin die ouer kontras tussen kapitalisme* en sosialisme* opgehef sal word. Die slagspreuk is: “A new world is possible”. In die konteks van die Wêreldraad van Kerke* en ekumeniese* diskoers in (Suid-)Afrika val die klem tans op volhoubare gemeenskappe eerder as volhoubare ontwikkeling. Dit word meermale gerugsteun met verwysing na die “hele huishouding van God” (Grieks: oikos) as ’n nuwe teologiese grondmetafoor waarvolgens die bestuur van die huishouding (ekonomie) ingerig moet word in terme van die onderliggende logika van die huishouding (ekologie).

Vir verdere lees: J Cock 1992. “Towards the Greening of the Church in South Africa: Some Problems and Possibilities” in: Missio­nalia 20:3, 174-185. EM Conradie en DN Field 2000. A Rainbow over the Land: A South African Guide on the Church and Environmental Justice. Kaapstad: Wes-Kaapse Raad van Kerke. EM Conradie 2001. Ecological Theology: A Guide for Further Research. Study Guide in Religion and Theology 5. Bellville: Universiteit van Wes-Kaap. ML Daneel 1999. African Earthkee­pers. Volume 2. Environmental Mission and Liberation in Christian Perspective. African Initiatives in Christian Mission 3. Pretoria: Unisa. DN Field 1997. “Confessing Christ in the Context of Ecological Degradation” in: Journal of Theology for Southern Africa 98, 32-44. JA Nash 1996. “Towards the Ecological Reformation of Christianity” in: Interpre­tation 50:1, 5-15. LL Rasmussen 1996. Earth Community, Earth Ethics. Maryknoll: Orbis Books.

Sidebar