EKOLOGIE IN SENDING

EKOLOGIE IN SENDING. Ekologie is die verhouding van die lewende orga­nismes tot hulle omgewing (HAT, 2005). Die skade wat aan die omgewing aangerig is/word, is een van die grootste bedreigings vir mens* en aarde* in die 21ste eeu. Daar is verskeie redes waarom die ekologie deel van die kerk* se sending*-agenda moet wees. 1. Die kerk het die afgelope paar eeue wêreldwyd uitgebrei met behulp van die Westerse tegnologie. Die kerk het die tegnologie doelbewus of onbedoeld bevorder. Dit is hierdie tegnologie wat die mens se mag sodanig vermeerder het dat ons die ekologie nou bedreig. 2. Die ekologie is God se skepping* en kerk en sending is geroep om dit te help bewerk en bewaar (Gen 2:15). 3. In die missionêre diakonaat* hoort die kerugma (verkondiging) en diakonia saam. Diakonia is die aandag aan mense se daaglikse bestaansnood: kos, klere, behuising, ens. Die middele om dit te doen, moet uit die omgewing verkry word. Die geloof in Christus* moet vergestalt word in ’n gepaste lewenstyl wat die verhouding met, en gebruik van, die ekologie insluit. Die sake wat hierbo genoem is, impliseer dat mense soos ingenieurs, landbouers, natuurkundiges, landboukundiges en ekonome ook hulle plek in die kerklike sending sal moet inneem. (Kyk ook: Ekologie en godsdiens.)

 

Sidebar