EKONOMIESE GLOBALISERING

EKONOMIESE GLOBALISERING maak deel uit van ’n meer omvattende proses van globalisering* wat gekenmerk word deur die deurkruising en vervaging van die politieke, ekonomiese en kulturele (Kyk by: Kultuur) grense wat deur nasiestate opgerig is. Nie alleen word fisiese afstande tussen mense al meer oorbrug nie, maar ook die afstand tussen verskillende kultuurvorms, ekono­mie­se en politieke stelsels word steeds minder. Al hoe meer mense dwarsoor die wêreld deel in gemeenskaplike vorms van bestaan.

Ekonomiese globalisering is die proses van groeiende interaksie in wêreldhandel, buitelandse investering en op buitelandse kapitaalmarkte. Die fenomenale groei in globale ekonomiese interaksie oor die afgelope dekades kan toegeskryf word aan onder andere tegnologiese ontwikkeling – veral op die gebied van inligtings- en kommunikasietegnologie, die liberalisering van regeringsmaatreëls om invoer en wissel­koerse te beheer, die ineenstorting van sentraal-beplande ekonomieë en die groot toename in die aantal multinasionale maatskappye. Oor die voor- en nadele van ekonomiese globalisering bestaan daar uiteenlopende menings. Voorstanders is daarvan oortuig dat dit op die lang duur produktiwiteit wêreldwyd sal verhoog en tot ekonomiese voordeel van alle lande en mense sal wees. Hulle wys graag op die hoë ekonomiese groei in Europa, Noord-Amerika en sekere Oosterse lande oor die afgelope dekades. Teenstanders wys weer daarop dat slegs sekere lande daarby gebaat het. In werklikheid word die gaping in die wêreld tussen ryk en arm steeds gro­ter. Selfs in ontwikkelde lande tref ons die verskynsel van “werklose groei” aan. Die bruto nasionale produk (BNP) in lande soos Duitsland styg, maar die aantal werklose mense neem toe. Daarby het arbeidsekuriteit wêreldwyd afgeneem. Steeds meer mense word nie vas aangestel nie, maar slegs tydelik as stuk- of kontrakwerkers.

Oor die vraag of dit moontlik is om die stelsel van ekonomiese globalisering te hervorm om tot ’n meer regverdige versprei­ding van inkomste en welvaart te kom, loop die menings ewe-eens sterk uiteen. Daar is voorstanders wat meen dat daar geen alternatief vir die huidige stelsel is nie, en dat die negatiewe newegevolge maar verduur moet word in die lig van die oorwig van ekonomiese voordele. Aangesien hulle ook nie oordeel dat die stelsel hervormbaar is nie, verwerp baie teenstanders die stelsel in geheel. Omdat dit veral die arm mense is wat die meeste onder ekonomiese glo­balisering ly, neem ekumeniese* organisa­sies soos die Wêreldraad van Kerke* en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke* ’n sterk afwysende houding in. Ander oordeel weer dat dit moontlik is om maatreëls te tref wat die negatiewe uitwerking op veral arm mense kan teenwerk.

Vir verdere lees: DE de Villiers 2001. “Teologiekroniek – Die kerk en ekonomiese globalisering” in: Verbum et Ecclesia 22(2), 465-477.

Sidebar