EKONOMIESE ONGELYKHEID

EKONOMIESE ONGELYKHEID. Eko­no­miese ongeregtigheid word in die Bybel* in veral die Ou Testament* op ’n ondubbelsinnige en skerp wyse veroordeel. Die profete se aankondiging van God se oordeel oor sy volk berus in baie gevalle op God se afkeer in die verdrukking van die armes deur die rykes. Amos* wys bv daarop dat God raaksien dat die voorspoedige lewe van rykes in die noordelike koninkryk van Israel* berus op hulle verdrukking van die armes: “hulle verkoop onskuldige mense vir geld, arm mense oor ’n paar sandale, hulle trap swakkes se koppe plat in die grond en veronreg dié wat hulleself nie kan verweer nie” (Amos 2:6,7). Daarom sal God Israel straf en oorgee aan ’n vyand wat hulle huise sal platslaan en hulle sal wegvoer na ’n vreemde land.

Ekonomiese ongelykheid val nie noodwendig saam met ekonomiese ongeregtigheid nie. Dat volkome ekonomiese gelykheid van alle mense nie haalbaar is nie, word selfs in die Bybel as ’n feit aanvaar. Vergelyk bv die gelykenis van die talente (Matt 25:14-30) wat dit nie net as ’n lewensfeit aanvaar dat mense oor verskillende bedrae geld beskik om mee te woeker nie, maar ook aanvaar dat die eind-resultaat nog groter ekonomiese ongelykheid behels, omdat mense nou eenmaal nie beskik oor dieselfde ywer en vermoëns nie. Wanneer ekonomiese ongelykheid egter die resultaat is van uitbuiting en diskriminasie, of dit van so ’n ekstreme aard is dat slegs ’n klein persentasie mense feitlik al die ekonomiese bronne beheer, terwyl die grootste persentasie mense sukkel om ’n behoorlike bestaan te maak, is daar wel sprake van ekonomiese ongeregtigheid.

Suid-Afrika is ’n voorbeeld van ’n land waarin ekstreme ekonomiese ongelykheid bestaan wat in ’n belangrike mate toegeskryf kan word aan politieke en ekonomiese diskriminasie en uitbuiting. In die vorige politieke bedeling was die Gini-koëffisiënt (wat ekonomiese ongelykheid meet) vir Suid-Afrika meestal bo 6.00 (van die hoogste in die wêreld) en was die persentasie van die bevolking wat in absolute armoede geleef het, konstant bo 40%. Twintig jaar na die oorgang na ’n nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika, lyk die syfers vir ekonomiese ongelykheid en absolute armoede* nie beter nie. Ontleders skryf dit gedeeltelik toe aan die dominansie van neo-liberale ekonomiese globalisering in die wêreld oor die afgelope dekades. Hierdie ekonomiese stelsel het tot ’n groot toename in wêreldhandel aanleiding gegee, maar terselfdertyd nog groter ongelykheid tussen ryk en arm lande en tussen ryk en arm mense in die wêreld meegebring. Op grond daarvan het die Wêreldraad van Kerke* die Akkra-deklarasie uitgevaardig waarin neo-liberale ekonomiese globalisering profeties veroordeel word as in stryd met God se opdrag dat ekonomiese geregtigheid moet geskied. (Kyk ook: Armoede.)

Vir verdere lees: Amerikaanse biskoppe 1986. Economic Justice for All: Pastoral letter on Catholic Social Teaching and the US Economy. Washington, DC: National Conference of Catholic Bishops; H Bedford-Strohm 2007. “Public Theology and the Global Economy: Ecumenical Thinking between Fundamental Criticism and Reform”, Nederduitse Teologiese Tydskrif 48 (172), 8-24; DE de Villiers 2013. “Public Theology in the South African Context”, Theologia Viatorum 37 (1), 83-107.

 

Dis ’n herskrewe/nuwe lemma

Sidebar