EKONOMIESE VERANTWOORDELIKHEID

EKONOMIESE VERANTWOORDELIKHEID. Werkloosheid, wat gepaard gaan met die groterwordende gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika, is ook ’n wêreldfenomeen wat hom afspeel tussen die sogenaamde welvarende Noorde en die arm Suide.

Sommige Christene* meen dat Christus* aan indiwiduele gelowiges die opdrag gegee het om hulle gawes te gebruik om minderbevoorregtes te help deur liefdes­diens alleen en nie noodwendig deur ekono­miese hervorming nie.

Ander wys daarop dat Jesus* juis ook onderskei kan word van ander Joodse* leiers van sy tyd vanweë sy sosiale, politieke en ekonomiese betrokkenheid by mense. Hulle sê dat Jesus gekom het om mense vry te maak van álle stelsels/sisteme van onderdrukking.

Daar kan in elk geval geen twyfel wees nie dat in sowel die Ou Testament* as in die bediening van Jesus daar besondere klem gelê word op die armes en hulpbehoewendes en ’n pleidooi vir versorging van en bystand aan hulle. In die lig daarvan het Christene ongetwyfeld ’n ekonomiese verantwoordelikheid om ook pleitbesor­gers te wees vir ekonomiese hervorming sodat daar billikheid is en nie uitbuiting nie, armes nie verontreg word nie, maar in staat gestel word om menswaardig te kan lewe. ’n Tipiese voorbeeld vandag is die bevordering van vrye handel tot voordeel van die wêreld se armes.

Vir verdere lees: DJ Bosch 1994. Transforming Mission. New York: Orbis Books. E Pieterse en F Meintjies (red) 2004. Voices of the Transition: The Politics, Poetics and Practices of Social Change in South Africa. Sandown: Heinemann Pu­blishers.

Sidebar