EKSEGESE

EKSEGESE kan beskryf word as die we­tenskaplik-verantwoorde prosesse waar­deur énige teks uitgelê word. In Christelike omgewings word eksegese uiteraard deur Bybelwetenskaplikes, predikante en ander geïnteresseerdes gebruik om die Bybel* uit te lê. Deeglike eksegese behoort die basis te vorm van Bybelkommentare, maar ook van elke preek en ander soort Skrifuitleg wat in geloofsgemeenskappe gelewer word.

’n Historiese oorsig van eksegetiese metodes: Deur die eeue het daar verskillende metodes van uitleg ontwikkel. Alreeds so vroeg as die Bybelse tyd self vind ons dat vroeëre tekste wat as gesaghebbend geag is, met behulp van uitlegstrategieë vir nuwe kontekste toeganklik gemaak is. Een voorbeeld is die Kroniek*boeke wat die vroeër geskiedenisboeke in die Ou Testa­ment* (veral Samuel* en Konings*) herinterpreteer en uitlê. Ook die Nuwe Testa­ment* bou op die Ou Testament, en groot gedeeltes bevat uitleg van die vroeër geloofs­tradisies.

In die Vroeë Kerk* was veral die allegoriese (Kyk by: Allegorie) en tipologiese uitleg gewild. Die alle­goriese metode (wat veral in Alek­sandrië beoefen is en deur die kerkvaders Origines* en Klemens* gewild gemaak is) gaan daarvan uit dat daar dieper, geestelike betekenisse skuil agter die oppervlakkige, voor-die-hand-liggende uitleg. (Dink aan die uitleg van die gelykenis van die Saaier). Tipologiese uitleg wat veral op die Ou Testament fokus, probeer aandui hoe persone en gebeure voorafskaduwings (“tipes”) is van Christus* wat sou kom en deur die Nuwe Testament geopenbaar sou word. Hierdie tipe uitleg wat gewild was in Antiogië*, het ook die historiese aspekte van uitleg begin beklemtoon.

Dit was veral met die opkoms van die Renaissance* en die humanisme* in die 15de eeu dat die historiese aspek al meer prominent in eksegetiese metodes begin word het. Die oortuiging van die hervor­mers was dat die kerk* en kerklike ampte­nare nie ’n monopolie op Bybeluitleg mag hê nie, omdat God sigself aan alle mense openbaar deur die Woord*. Daarom het Martin Luther* moeite gedoen om die By­bel uit die grondtale in Duits te vertaal.

Met die groter klem op rasionale denke en wetenskaplike metodes wat sedert die 18de eeu die algemene denkklimaat begin kenmerk het, het Bybeleksegese ook ver­dere ontwikkeling ondergaan. Die belangstelling in die geskiedenis het steeds voort­geduur onder Bybeluitleggers, maar onder die invloed van die tyd het hulle toenemend begin vrae vra oor die ontstaansgeskiedenis van die Bybel. Eksegete en ander Bybellesers het begin opmerk dat alle gegewens in die Bybel nie altyd presies gerym kan word nie. Hulle het begin vermoed dat die Bybeltekste oor ’n lang tydperk ontstaan het, en uit verskillende bronne saamgestel is. Hulle oortuiging was dat ’n mens die Bybel beter sal kan verstaan as ’n mens meer oor hierdie ontstaansgeskiedenis en -omstandighede te wete kan kom. Verskillende eksegetiese metodes het na aanleiding van hierdie oortuiging begin ontwikkel. Hierdie metodes word normaalweg die histories-kritiese metodes van uitleg genoem. Die woord “krities” verwys (anders as in gewone omgangstaal) na die wetenskaplike verantwoordbaarheid waar­mee hierdie soort eksegese uitgevoer word.

Sedert die begin van die 20ste eeu het daar ’n lewendige belangstelling in die li­teratuurwetenskap begin ontwikkel. Al­gaande het die oortuiging begin groei dat tekste outonoom is, en dat hulle ontstaans­omstandighede, of selfs die bedoeling van die outeur, nie bepalend is vir hulle betekenis nie. Betekenis is eerder iets wat in die strukture van die tekste self setel. Tekste moet daarom as literatuur gelees word. ’n Hele aantal sogenaamde teksimmanente metodes van eksegese het begin ontwikkel. Nie meer die ontstaansomstandighede van die Bybeltekste nie, maar hulle literêre kenmerke vorm nou die fokus van studie. In hierdie metodes word rekening gehou met die verskillende literatuursoorte wat in die Bybel voorkom. Verhale moet as verhale gelees word, gedigte as gedigte, briewe as briewe.

Sedert die 1960’s het nóg ’n verskuiwing in Bybeluitleg plaasgevind. Algaande begin dit deurdring dat lesers ook heelwat bydra in die proses van verstaan. Wie die leser is, watter belange die leser wil dien, en in watter konteks die leser lees, beïnvloed sterk hoe ’n teks verstaan word. Eksegetiese metodes het begin ontwikkel wat hierdie aspek in Bybeluitleg beklemtoon.

Onder die indruk van die rol van die leser, het persone en groepe wat voorheen nie deel van die hoofstroom-eksegese was nie, in die laaste gedeelte van die 20ste eeu na vore begin tree om hulle unieke perspektief op Bybeluitleg op tafel te plaas. Waar Bybeleksegese voorheen gekenmerk is deur wit, manlike uitleggers, het feminis­tiese (Kyk by: Feminisme) eksegese bv vir die unieke manier hoe vroue die Bybel verstaan, begin aandag vra. Op die Afrika*-kontinent het Afrika-lesers begin aandui hoe die postkoloniale konteks die uitleg en verstaan van die Bybel beïnvloed. Verder word daar dikwels gewys op die groot oor­eenkomste tussen die sosio-kulturele om­standighede in tradisionele Afrika-gemeenskappe en die Bybelse ontstaansomstan­dighede, en word dit verreken in ’n verskeidenheid van sosio-kulturele eksegetiese metodes.

Hoe gemaak vandag? Hoe nou gemaak vandag met al hierdie verskillende ekse­getiese benaderings? Hoe kies ’n mens?

In die beantwoording van hierdie vraag, moet met die volgende drie uitgangspunte rekening gehou word: 1. Die Bybel bestaan uit antieke tekste: Ons kan nie ignoreer dat die Bybeltekste baie lank gelede, en oor ’n lang tydperk (waarskynlik meer as 1 000 jaar!), tot stand gekom het nie. Die tekste dra die kenmerke van die tyd waaruit hulle kom – wat betekenisvol anders is as ons eie moderne (en postmoderne) tyd. Ons moet dus ’n historiese bewussyn hê wanneer ons die Bybel probeer uitlê, en ons moet daarom bedag wees op die saamgesteldheid en ontstaansomstandighede van die tekste. 2. Die Bybel bestaan uit literêre teks­te: Ons kan nie ignoreer dat die Bybel-­tekste in mensetaal na ons toe kom nie. Taal en literatuursoorte word op so ’n manier in die Bybel gebruik dat dit bepaalde effekte by die lesers en hoorders wil bewerkstellig. Ons moet daarom die tekste met ’n literêre bewussyn uitlê. 3. Die Bybel bestaan uit oortuigingstekste: Die tekste wil (veral) bepaalde geloofsoortui­gings oor God oordra, en wil die lesers en hoorders aanmoedig om hierdie geloofs­oortuigings te deel. Daarom word dit as gesaghebbend geag. Maar dit word veral gesaghebbend geag omdat hierdie tekste God aan die leser en hoorder wil bekendmaak. Daarom is geloofsgemeenskappe oortuig dat die Bybel die Woord van God is. In ons eksegese moet ons dus voortdurend ’n teologiese bewussyn behou om reg te laat geskied aan hierdie kenmerk van die Bybel.

Hierdie uitgangspunte laat ons insien dat ’n mens uiteraard meer as een eksegetiese metode benodig om die rykdom van die Woord van God te kan bestudeer. Verskillende metodes help ons om verskillende fasette van hierdie rykdom raak te sien. (Kyk ook: Skrifuitleg, en: Teks­uitleg.)

Vir verdere lees: LC Jonker en DG Lawrie (red) 2005. Fishing for Jonah (anew): Various Approaches to Biblical Interpre­tation. Stellenbosch: African Sun Media.

 

Sidebar