EKSISTENSIALISME

EKSISTENSIALISME verwys na een van die belangrikste stromings in die 20ste-eeuse Europese filosofie (Kyk by: Eksisten­siefilosofie). Die grondlegger van hierdie denkwyse was weliswaar die 19de-eeuse Christendenker, Søren Kierkegaard*. Sy werke, wat oorspronklik in Deens geskryf is, is eers aan die begin van die 20ste eeu in Duits en Engels vertaal, en het ’n groot invloed uitgeoefen op die belangrikste eksistensialistiese denkers, bv Martin Heidegger*, Jean-Paul Sartre*, Maurice Merleau-Ponty, Gabriel Marcel, Karl Jaspers*, Martin Buber, Nicolas Bedyaev en Paul Ricoeur.

Die eksistensialisme as denkwyse gaan uit van die sentrale belangrikheid van die menslike bestaanswyse of “eksistensie”. ’n Kernuitgangspunt van hierdie denkwyse is dat “eksistensie essensie voorafgaan” (Sartre). Dit beteken dat die eksistensia­lisme minder geïnteresseerd is in ’n formele filosofiese stelsel waarin universele waar­hede in die vorm van onbetwyfelbare kennisaansprake geformuleer en in onderlinge verband gestel word. Eksistensialisme as denkwyse soek eerder na die sin of betekenis van dinge, en veral van die lewe van die mens, as na ’n wetenskaplike sisteem. Om iets “eksistensialisties” te verstaan, is om uit te maak wat die waarde, belang of relevansie van iets vir ’n subjek in die sin van ’n naamdraende, historiese persoon of ge­meenskap is. Dit vra na “sin” in die sin van wat die verwantskap is tussen ’n sindraer en iemand wat hier en nou, in ’n besondere historiese situasie, leef.

Eksistensialisme het ’n groot invloed uitgeoefen op die teologie*, met name op verteenwoordigers van die sg “dia­lek­tiese teologie”* van die 20ste eeu (veral Bultmann*, maar ook Barth*, Brunner*, Gogarten en Bonhoeffer*), asook op die hermeneutiese (Kyk by: Hermeneutiek) teologie van Ebeling*, Fuchs, Pannenberg* en Jüngel, en veral op die eksistensialistiese teologie van Tillich*. Rudolf Bultmann maak bv grootliks gebruik van Heidegger se analise van die menslike bestaan (“Dasein”) wanneer hy die verstaansraamwerk aandui in terme waarvan die ontmitologiserende (Kyk by: Ontmitologisering) interpretasie van die Nuwe Testament* moet geskied.

Vir verdere lees: J Macquarrie 1972. Existentialism. Londen: Hutchinson. J Macquarrie 1955. An Existentialist Theology: A Comparison of Heidegger and Bultmann. Londen: SCM Press.

 

Sidebar