EKSISTENSIEFILOSOFIE

EKSISTENSIEFILOSOFIE is ’n Europese filosofiese stroming, ook kortweg bekend as eksistensialisme*, wat veral ná die Eerste Wêreldoorlog* Europese denke oorheers het. As denkvoorlopers geld Sjestov, Maine de Biran, maar veral die Deense filosoof-teoloog Søren Kierkegaard* (1813–1855) wat as die vader van eksistensialisme beskou word. In kritiese reaksie op die invloedryke voorafgaande Hegeliaanse* denke waarin die mens as idee sentraal staan, wat die algemene bo die besondere, die abstrakte bo die konkrete, syn bo eksistensie, teorie bo praxis, gestel het, geld as fokuspunt in eksistensialisme die mens in sy/haar konkrete bestaan met al die gepaard­gaande houdings, stemmings en beslissings wat voortspruit uit mens-wees. As kernpunte geld: Eksistensie gaan essensie vooraf. Eksistensie word in menslike keuses – tyds- en ruimte-gebonde – vanuit vryheid in die wêreld voltrek ten aansien van bestaansmoontlikhede en bestaansgrense. Die mens is nie, maar die mens word. Eksistensie is selfverwerkliking. Op die betekenis van die grenssituasies van menslike bestaan (bv die dood*, angs, skuld*, lyding*) word gefokus. Al­hoewel die menslike bestaanswyse as ver­trekpunt geld, loop die eksistensiefilosowe – soos Karl Jaspers*, Jean-Paul Sartre*, Gabriel Marcel, Simone de Beauvoir, Maurice Merleau-Ponty, Martin Heidegger*, Paul Ricoeur, Georges Gusdorf – se in­houdelike deurdink van mens-wees, baie uiteen. Om enkele voorbeelde te noem: Heidegger fokus op menslike syn as “in-die-wêreld-geworpe-wees”, wat ontsluit as Dasein in betrokkenheid op syn; vir Jaspers is syn die “omvattende” (“Umgreifende”) wat nie as voorwerp van denke of gevoelens kan geld nie; Sartre, op sy beurt, fokus op die konfrontasie van mens-syn met nie-syn te midde van die afwesigheid van God; vir Merleau-Ponty staan ons liggaamlikheid voorop as die manier waarop ons eksisteer. Veral die Duitse Nuwe-Testamentikus Rudolf Bultmann* het baie van hierdie motiewe wat voortspruit uit eksistensie­filosofie op teologiese* nadenke van toe­passing gemaak.

Sidebar