Ekskommunikasie

Ekskommunikasie. Alhoewel daar vir “ekskommunikasie” nie ’n ekwivalente term in die Bybelse tale, Hebreeus en Grieks, is nie, is die praktyk van die Latynse term ex-communio (= uitsluiting van die communion/nagmaal*), wat volgens die konsilie* van Nisea* (325) tot akoinonetoi (“dié wat nie koinonia ervaar nie”) lei, van vroeg af deel van die kerklike tug*han­deling*. Hierdie gebruik word na die apostel Paulus* (1 Kor 5:4-5) teruggevoer.

Die gemeente* leef onder Christus* se beskerming wat as pasga* (paaslam) alle onheil van hulle as gemeenskap weghou (1 Kor 5:5-11). As ’n persoon deur sy/haar op­trede onreinheid in hierdie ruimte inbring, kan dit soos suurdeeg almal aantas. Veral ter wille van die beskerming van die gemeente, maar ook ter wille van sy/haar eie redding, word so iemand deur die gemeente self uitgesluit (vgl 2 Kor 2:8) – ook van die gemeenskaplike nagmaal* en die gemeenskap* (koinonia) met Christus se liggaam en bloed (1 Kor 10:16). Die gemeentelede mag nie met so ’n persoon meng of saam eet nie (1 Kor 5:11).

Die ekskommunikasie kan ook plaas­vind as die gemeente nie daarin slaag om ’n broer of suster wat verkeerd opgetree het, tot ander insigte te bring nie. Dan word so iemand soos ’n sondaar uitgesluit (Matt 18:17). Wie die gemeente verwar deur die kern van evangelie* te verander (Gal 1:8-9), wie nie die Here* liefhet nie, word vervloek* (anathema – 1 Kor 16:22). Ernstige oortreders word aan Satan* oorgegee (1 Kor 5:4-5; 1 Tim 1:20).

Reeds die Nuwe Testament* laat dit egter nie aan net een persoon oor om te besluit of iemand uitgesluit word nie. Die sg sleutelmag – dat sondes wat op aarde vergewe is dan ook in die hemel vergewe is – is aan twee of meer gegee (Matt 18:19). Ook in die bg gevalle by Paulus gaan dit by “ekskommunikasie” om ’n gemeentelike besluit. En om die vaste oortuiging van die gemeente in die lig van die Woord*, en so gelei deur die Heilige Gees*, dat die persoon wél sonde gepleeg het en daaroor onboetvaardig is.

 

Sidebar