EKSODUS (BYBELBOEK)

EKSODUS (BYBELBOEK). Die tweede boek van die Pentateug* se naam “Eksodus” is afgelei van die Griekse en Latynse verta­lings van die Ou Testament* en benadruk Israel* se uittog* uit die verdrukkende sla­werny in Egipte*. In Hebreeus* word na Eksodus as Sjemôt verwys wat “name” beteken en dit hou verband met die voorafgaande lys van name in Gen 46:8-27.

Eks 1:1-7 verwys na Jakob* en sy seuns en sluit daarmee aan by die slot van Genesis*. Die nageslagbeloftes wat aan die aarts­vaders* gemaak is (Gen 12:1-3), tree so sterk in vervulling dat die Israeliete se getalle so groot raak dat die farao* bedreig voel en die getalle wil verminder deur die babaseuntjies te vermoor (Eks 1:8-22). In teenstelling met die nageslagbeloftes is die landbeloftes ver van vervulling af met die Israeliete wat as slawe in ’n vreemde land moet werk. Die res van die Pentateug (Levitikus*–Deu­tero­nomium*) funksioneer byna soos ’n bio­grafie van Moses*, aangesien die hele lewens­loop van sy geboorte in Eks 2 tot sy dood in Deut 24 beskryf word. Deurgaans gaan dit oor Moses wat as be­mid­delaar tussen God en sy volk optree en onder andere die Tien Gebooie* by Sinai*2 namens die volk ontvang (Eks 19–20).

Die gebeure in Eksodus speel in drie geografiese kontekste af: 1. Egipte as plek van slawerny* (1:1–13:16). 2. Die reis deur die wildernis vanaf die Rietsee* tot by Sinai (13:7–18:27). 3. Die gebeure by Sinai vanaf die ontvangs van die Tien Gebooie tot die bou van die tabernakel* (19–40). In noue samehang hiermee kan daar ook ’n onder­verdeling van Eksodus in terme van teologiese temas gemaak word: 1. Godde­like bevryding van Israel* uit Egipte se slawerny (1:1–15:21). 2. Goddelike onderhouding van Israel in die woestyn (15:22–18:27). 3. Goddelike ontmoeting met Israel by Sinai (19:1–24:18). 4. Goddelike teenwoordigheid by Israel in die tabernakel (25:1–40:38).

Wanneer daar oor die datering van die boek Eksodus nagedink word, moet daar ’n duidelike onderskeid getref word tussen die tyd van die gebeure wat plaasvind en die tyd waarbinne die boek geskryf is. In die lig van Eks 12:40 was die Israeliete vir 430 jaar in Egipte en na aanleiding van 1 Kon 6:1 het Salomo* die tempel*1 in Jeru­salem* 480 jaar ná die uittog gebou. Aangesien die boudatum van die tempel van Salomo rondom 960 vC geplaas word, kan die afleiding gemaak word dat die Eksodusboek gedurende die 15de eeu vC afspeel. Argeologiese* opgrawings dui egter op grootskaalse bouery in die 13de eeu vC, sowel as die Mernepta-stele wat vir die eerste keer na die bestaan van Israel in die 13 eeu vC verwys. Hoewel daar nog geen konsensus oor die datering van die gebeure in Eksodus ontwikkel het nie, is daar tog ’n meerderheid van navorsers wat die 13de eerder as die 15de eeu vC verkies.

Die opskrifstelling van die boek Eksodus vind na alle waarskynlikheid plaas in ’n tyd waarin daar vrae gestel is oor die godsdiens­tige identiteit van God en van Israel. So kon daar gevra word na wat die Naam van God was en hoe die verbond* tussen die Here* en sy volk tot stand gekom het. In noue samehang hiermee kon daar ook gevra word na die herkoms van die volk en hoe hulle die volk van God geword het. Natuurlik vra enige geloofsgemeenskap vrae oor hulle geloofsidentiteit en herkoms. Daar is egter minstens drie kontekste binne die geskiedenis van Israel toe hierdie soort vrae besonder aktueel was: Aan die een kant was daar tydens die verdeling tussen die Noord- en Suidryk vanaf die 9de eeu vC verskillende identiteitsvrae wat verbande of onderskeide tussen Jerusalem en Samaria* verduidelik het. Aan die ander kant was daar tydens die Babiloniese ballingskap*2 in die 6de eeu vC indringende vrae en is die verlangde terugkeer na die land van belofte met die Eksodus in verband gebring (Jes 40–55). Ná die ballingskap (586–539 vC) het die Jode onderdane van die Persiese Ryk* geword en was daar weer eens indringende vrae oor identiteit en godsdienstige prioriteite wat die Eksodusgebeure opnuut aktueel gemaak het.

In Eksodus word God op veral drie maniere beskryf: 1. God as die Redder of Verlosser wat die klagte van sy volk hoor en Moses roep om Israel uit die slawerny te lei. 2. Vervolgens gaan dit oor die verskillende maniere waarop God Homself aan die volk bekend maak: deur die wondertekens of plae, die redding by die Rietsee, die daaglikse versorging met die manna en die kwartels, die aanduiding van die koers met die wolk- en vuurkolom, die kragtige ontmoeting met Moses op Sinai en nog talle meer. 3. Ten slotte gaan dit oor die Here se teenwoordigheid wat op verskillende ma­nie­re deel van Israel se amptelike godsdiens word: hier kan ’n mens dink aan die instelling van die Paasfees*, die kommunikasie van die Tien Gebooie* en veral aan die uitvoerige aandag wat daar aan die ontwerp en aan die bou van die taber­nakel gegee is (Eks 25–31; 35–40).

In skrille teenstelling met die uitbeel­ding van God is daar die verskillende beskrywings van die volk: Hoe hulle skaars kan ophou kla en murmureer te midde van die daaglikse tekens van God se versorging (manna en kwartels) en rigtinggewing (wolk- en vuurkolom). Moses is skaars ’n paar uur weg of Israel bou, onder leiding van die priester Aäron*, die broer van Moses, die goue kalf* en aanbid dit asof dit die Here is.

Eksodus is in die loop van Suid-Afrika se geskiedenis deur verskillende groepe op­geëis: sommige Voortrekkers* het hulle as die nuwe Israel gesien wat op pad is na die beloofde land. Sowat 150 jaar later is die nasate van die Voortrekkers gesien as die bron van onderdrukking en het deelnemers aan die bevrydingstryd hulleself met Israel vereenselwig in hulle hunkering en strewe na politieke vryheid. Daar is egter veel meer teologiese diepte in Eksodus wat nie uitgeput word met ’n bevrydingsteo­logiese interpretasie van die boek nie. Die samehang van Goddelike redding en teenwoordigheid bied ten diepste die basis vir godsdienstige identiteit deur die eeue.

 

Sidebar