EKSORSIS(ME)

EKSORSIS(ME). Demoonbesetenheid (Kyk by: Demone) was algemeen bekend in antieke Babilonië*, Egipte* en Grieke­land. Verskeie siekte- en maniese toestande is aan besetenheid toegeskryf. Eksorsiste gebruik magiese woorde, formules en handelinge vir demoonuitdrywing (eksorsisme). Waar moontlik, word die demoon se naam genoem, omdat geglo is dat be­kendheid met die naam beheer oor die demoon inhou. Die aanroep van ’n be­kende god se naam het ook voorgekom.

In die Ou Testament* kom eksorsisme nie eintlik voor nie (maar let op 1 Sam 16:14-23). In die Joodse* literatuur van die Hellenistiese* periode figureer dit meer gereeld. Die optrede van Joodse eksorsiste is bekend (Matt 12:27; Hand 19:13).

Die Nuwe Testament* gaan van twee veronderstellings uit: die werklikheid van demoonbesetenheid en die oorwinning van Jesus* oor Satan* en demone. Hoewel gevalle van vermeende besetenheid in die antieke aangemerk kan word, is die Nuwe-Testamentiese gevalle eg en moet dit binne die monstering van die bose magte* teen die koninkryk* van God verstaan word.

Reg van die begin van Jesus* se bedie­ning af vind die konfrontasie met die demone plaas. Hy dryf nie demone uit met vaste formules of prosedures, soos so dikwels voorgekom het by professionele demoonbesweerders, nie. Hy toon sy superioriteit deur gewoon ’n gesagswoord te spreek of iemand aan te raak, en dan gehoorsaam die demone (Matt 8:16; Luk 13:10-16). Die dissipels* moes egter die Naam van Jesus aanroep (Luk 10:17), so ook Paulus* (Hand 16:18). Die Kanaänitiese* vrou se dogter word op ’n afstand bevry (Matt 15:21-28), wat suggestie as ’n verkla­ring vir Jesus se eksorsismes uitsluit. By die Geraseense besetene vind daar ’n verpla­sing van demone van besetene na varke plaas (Mark 5:12-13). Gevalle van verplasing kom ook in buite-Bybelse bronne voor.

Slotsom: Wanneer Jesus demone deur die Gees* van God uitdryf, is dit ’n teken dat die koninkryk van God aangebreek het en die ryk van die bose verslaan is (Matt 12:28).

Sidebar