EKUMENE

EKUMENE kom van die Griekse werk­woord oikeo (“om te bewoon”) en is in die antieke tyd gebruik om die bewoonde wêreld aan te dui. Griekse skrywers het die begrip ingespan om na die beskaafde (Grieks­sprekende) wêreld te verwys. Eeue later het die Romeine die begrip “eku­mene” vir die Romeinse Ryk* wat oor die wêreld versprei was, gebruik. In die Nuwe Testament* verwys “ekumene” na die hele wêreld of die volkewêreld (vgl Matt 24:12; Luk 2:1; Hand 17:31; Op 12:9). Toe die Romeinse Ryk gekersten is, het “ekumene” die betekenis van die hele Christelike wêreld verkry. In die 19de en 20ste eeu is die woord algemeen gebruik om na die kerk* van die Here Jesus* wat op al ses kontinente wortel geskiet het, te verwys. Die begrip word as indikatief én imperatief verstaan. As indikatief verwys “ekumene” na die feit van die bestaan van die kerk in alle lande van die wêreld, én na die eenheid* wat daar prinsipieel in die “gemeenskap van die heiliges*” bestaan. As imperatief verwys “ekumene” na die Bybelse* opdrag om aan dié eenheid gestalte te gee, en om die onenigheid en verskeurdheid wat daar tussen Christelike tradisies en denominasies bestaan, teen te werk. In ’n afgeleide sin verwys die woord “ekumene” ook na die verhouding (“ekumeniese betrekkings”) tussen kerke. Gedurende die 19de en veral die 20ste eeu het verskeie ekumeniese organisasies tot stand gekom, soos die Wêreldraad van Kerke*, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke*, die Lutherse Wêreldfederasie*, die Anglikaanse Lambeth Conference, die Gereformeerde Ekume­niese Raad* en talle ander, wat almal ’n rol gespeel het en speel om denominasies en kerklike tradisies nader aan mekaar te bring en om hulle in staat te stel om saam te werk.

 

Sidebar