EKUMENIESE ORGANISASIES (AFRI­KA EN SUID-AFRIKA)

EKUMENIESE ORGANISASIES (AFRI­KA EN SUID-AFRIKA). Net soos in ander wêrelddele, word die kerke in Afrika* deur verskillende ekumeniese* organisasies saam­gebind. Die All Africa Conference of Churches (AACC) wat in 1963 in Kampala (Uganda) gestig is, verteenwoordig die meerderheid hoofstroomkerke op die vasteland. Die hoofkantoor van die AACC is in Nairobi (Kenia). Evangeliese (Evangelikaliese*) kerke in Afrika word op hulle beurt deur die Association of Evan­gelicals in Africa (AEA), ook met hulle hoofkantoor in Nairobi, saamgesnoer. Die Organization of African Instituted Chur­ches verteenwoordig die belange van ’n hele aantal Onafhanklike Afrika-kerke* op die vasteland. Die Wêreldgemeenskap van Gere­for­meerde Kerke* (die saamgesmelte Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en Gereformeerde Ekumeniese Raad), het ’n streekorganisasie, die Afrikabond van Gereformeerde Kerke. Benewens die wyer ekumeniese organisa­sies, het talle denominasies en kerktradisies – soos bv die Katolieke Kerk* – organisatoriese bande wat dwarsoor die kontinent van Afrika strek.

In Suid-Afrika is die SuidAfrikaanse Raad van Kerke (SARK)* die grootste ekumeniese organisasie waarby die meeste hoofstroomkerke ingeskakel is. ’n Kleiner organisasie wat Evangeliese en Pinkster­kerke* saambind, is The Evangelical Alli­ance of SA (TEASA) wat, net soos die SARK, sy hoofkantoor in Johannesburg het. In die kring van die Afrikaanse gereformeerde* kerke het die Tussenkerklike Kommissie oor baie jare daarna gestreef om samewerking tussen die NG Kerk*, die Ned Herv Kerk van Afrika* en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika* te stimuleer. Die kommissie se werk het intussen uitgegroei tot die Konvent van Reformatoriese Kerke waar­aan ook ’n aantal ander kerke van gereformeerde belydenis buite die enger kring van die drie Afrikaanse Kerke, behoort.

 

Sidebar