EKUMENIESE TEOLOGIE

EKUMENIESE TEOLOGIE. Gedurende die 20ste eeu, toe die ekumeniese* bewe­ging met rasse skrede gegroei het, het die behoefte aan teologiese besinning – die ontwikkeling van ’n ekumeniese teologie* – sterk na vore gekom. Sommige voorstan­ders het die klem daarop gelê dat al die verskillende teologiese dissiplines (Ou* en Nu­we* Testament, sistematiese teologie* en etiek*, kerkgeskiedenis*, praktiese teologie* en sendingwetenskap*) hulle wetenskap ekumenies moet beoefen, dit wil sê: dat hulle hulle gedurig op die hoogte stel met wat ander kerke* oor die verskillende on­der­werpe wat hulle bestudeer, te sê het – en ook hoe hulle in hulle studie en navorsing die eenheidsproses tussen kerke kan dien. Terwyl dit vanselfsprekend belangrik is, is méér as dit nodig. Die ekumeniese bewe­ging is in ons tyd so omvangryk, dat dit ’n studieveld van sy eie vereis: Die geskiedenis van die ekumene moet nagevors word, die verskillende teologiese en teoretiese vraag­stukke moet bestudeer word, die belyde­nisskrifte* en standpunte van verskillende kerktradisies moet met mekaar vergelyk word, terwyl die praktyk van die ekumene eweneens deeglike nadenke vereis. Aan talle universiteite en seminaries word ekumeniese studies as ’n eie vakrigting aangebied.

Sidebar