ELIA

ELIA was ’n profeet afkomstig uit Tisbe in Gilead* (1 Kon 17:1). Sy vroeë geskiedenis is onbekend. Sy getrouheid aan God en die aankondiging wat hy gemaak het dat daar vir baie jare lank droogte en hongersnood sou wees as straf vir Israel* se sonde*, het gemaak dat koning Agab* en sy vrou, Isebel*, baie kwaad vir hom was. God het egter vir hom gewys waar hy kon gaan skuil en hy is deur kraaie by die Kritspruit versorg.

Hy het later na Sarfat in Fenisië gegaan waar nog wonderwerke plaasgevind het – onder andere het die olie en meel van die weduwee waar hy tuisgegaan het, nie opgeraak nie. Ná verloop van drie jaar van droogte in Israel, verskyn Elia weer voor Agab. In 1 Kon 18 sweer Isebel wraak nadat Elia die Baäl*profete as vals uitgewys en hulle laat doodmaak het. Elia vlug weer na die wildernis waar hy ’n merkwaardige visie van God ontvang (1 Kon 19:9-18). By Gilgal* ontvang Elia later ’n boodskap van die Here* dat God hom sou kom haal. ’n Wa van vuur met perde van vuur het verskyn en Elia is in ’n stormwind die hemel in (2 Kon 2:11).

Sidebar