ELISA

ELISA beteken “my God is redding”. Dit is die naam van ’n persoon en van ’n eiland.

  1. ‑Elisa was die seun van Safat uit Abel-Megola en was Elia* se leerling en opvolger as profeet*. Ons lees die eerste keer van Elisa in 1 Kon 19:16 waar Elia die opdrag kry om hom te gaan salf* as sy opvolger.

‑   Elia het na Elisa toe gegaan en sy eie mantel oor Elisa se skouers gegooi. Elisa het sy roeping as profeet ongeveer vier jaar voor die dood van Agab*, koning van Israel*, ontvang. Vir die volgende paar jaar het Elisa vir Elia gevolg in alles wat hy gedoen het, voordat Elia in die hemel opgeneem is. Ná Elia se dood is Elisa aanvaar as die leier van die seuns van die profete in Israel. Op sy eie versoek het hy ’n dubbele hoeveelheid van Elia se gees ontvang (2 Kon 2:9). Hy was vir 60 jaar lank ’n profeet in Israel (2 Kon 5:8).

‑   Baie jare later het Joas*, die kleinseun van Jehu*, gerou by die sterfbed van Elisa (2 Kon 13:14-19) met die woorde: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”

  1. ‑Elisa is die naam van ’n eiland. (Kyk by: Siprus.)
Sidebar