ELLIS, GEORGE FRANCIS RAYNER

ELLIS, GEORGE FRANCIS RAYNER (1940–), ’n teoretiese kosmoloog, het die Templetonprys* van $1,4 miljoen in 2004 gewen vir sy bydrae tot dialoog tussen die teologie* en die wetenskap. Ellis is in Johannesburg gebore, het BSc met onderskeiding in 1960 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf, en sy PhD in 1964 in toegepaste wiskunde en teoretiese fisika aan die Universiteit van Cambridge. Sy eerste boek, The Large Scale Structure of Space-Time, saam met Stephen Hawking, is in 1973 gepubliseer. Ellis het in 1974 ’n pos aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar en in dieselfde jaar ’n Kwaker* geword. Hy lewer skerp kritiek op die apartheids­beleid* van die destydse Suid-Afrikaanse re­ge­ring en publiseer saam met kollegas The Squatter Problem in the Western Cape en Low Income Housing Policy in South Africa. As Ellis sy siening verdedig dat rasio­naliteit en redelikheid met geloof* en hoop* “gebalanseer” moet word as ’n mens die werking van die heelal wil verstaan, verwys hy graag na die vreedsame demokratise­ring van Suid-Afrika in die 1990’s wat volgens hom nie net “rede-lik” verstaan kan word nie.

Ellis skryf in sy belangrike boek, On the Moral Nature of the Universe, oor die oorsprong van die heelal, die evolusie van kompleksiteit, die funksione­ring van die menslike re­de, en die ver­band daarvan met gren­se an­der­kant die wetenskap. Ellis toon aan hoe religieuse en teologiese perspektie­we ons help om die samestelling en karakter van die heelal te verstaan in terme van kenosis, wat hy “self-opofferende liefde” noem. Self-opoffering is volgens Ellis die ware aard van moraliteit, nóg iets wat nie deur fisika verklaar kan word nie.

Sidebar