ELOFF, THEUNS

(1953–) was agter die skerms een van die sleutelfigure in die veelparty-onderhandelings wat tot die daar­stelling van ’n demokratiese Suid-Afrika in 1994 gelei het. Eloff se rol was die kulminasie van jarelange betrokkenheid by hervormingspolitiek.

Hy is in Potchefstroom gebore en het hom aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO)* in die regte en teologie* bekwaam. Hy dien drie keer as studente­raadsvoorsitter en was aktief betrokke by nasionale studentepolitiek. Sy besoek in 1987 aan Dakar om saam met ander Afrikaners*/Afrikaanssprekendes met die toe nog verbanne African National Congress gesprek te voer, het sy posisie as leraar van die Gereformeerde Kerk* Brooklyn in die ge­drang gebring. Hy het daarna voltyds be­trokke geraak by vredespogings. Dit het uitgeloop op sy aanstelling in verskeie sleutelposisies wat die oorgang na en uitbou van ’n veelpartydemokrasie moontlik gemaak het.

Hy word in 2002 visekanselier en rektor van die PU vir CHO en dien van 2004 tot 2014 as visekanselier van die Noord­wes-Univer­siteit (’n same­smelting van die PU vir CHO en die Univer­si­teit van Noord­wes).

Eloff se stand­punte is ge­­ken­merk deur per­soonli­ke moed en indiwi­duali­teit, ’n sterk reformatoriese lewens- en wê­reld­­be­skouing en ’n stre­we na gereg­tigheid*. Sy uittrede as visekanselier, te midde van klagtes dat die Noordwes-Universiteit se “transformasie” nie voldoende was nie, is in wye kringe betreur en die aantygings is deur baie waarnemers as onbillik beskou. Daarna dien hy onder meer as voorsitter van die Dagbreektrust en as uitvoerende hoof van die FW de Klerk–stigting. Hy is ge­troud met die sangeres en televisiepersoonlikheid Suzette Eloff.

 

Sidebar