ELOHIM

ELOHIM is ’n Hebreeuse woord – ûlÿhîm – en beteken “god/gode”. Dit kom 2 570 keer in die Ou Testament* voor en kan in verskillende betekenisse gebruik word. Dit kan verwys na die “gode” van ander nasies (Egipte*: Eks 12:12; Amoriete*: Jos 24:15; Arameërs*: Rig 10:6). Dit kan ook verwys na ’n enkele god (Kemos* as god van die Moa­biete*: 1 Kon 11:33).

Dat “’n god/gode” heeltemal anders as mense was, word treffend deur die volgende tekste geïllustreer: “God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie” (Num 23:19); “Die Egiptenaars is mense, hulle is nie gode nie, en hulle perde is maar net perde, nie bonatuurlike wesens nie” (Jes 31:3). In dieselfde asem bevestig die profeet Hosea* (8:6) dat die kalwerbeelde* van Samaria* “geen gode” is nie, maar die werk van mense­hande.

Bo en behalwe die generiese betekenis “god/gode”, dui ûlÿhîm meestal op die “God” van Israel*. Hierdie God, wat werklik ûlÿhîm (God) is en Wie se Naam Jahwe* (die Here*) is, het Hom op ’n besondere manier aan sy volk verbind. In Deut 32:9 staan: “Hulle is die Here se volk, sy deel, Jakob is die Here se vaste eiendom.” Die belangrikste bewys van hierdie unieke verbintenis is die verbond*. Die inhoud hiervan is: “Ek neem julle aan as my volk en Ek sal julle God wees” (Eks 6:6). Hierdie belofte kom nie minder nie as 25 keer in verskillende variasies in die Ou Testament voor.  Daarom word daar dikwels, veral in Deuteronomium*, na God verwys as “ons God” (23 maal), “jou God” (218 maal), “julle God” (44 maal). Ook buite die Pentateug* kry ons uitsprake in dié verband: “Ek is die Here jou God van Egipte se tyd af” (Hos 12:10, 13:4), “God, jou God is Ek” (Ps 50:7), “Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape deur sy hand versorg” (Ps 95:7).

Verdere aanduidings van hoe ûlÿhîm in die Ou Testament teenoor sy volk is, kan afgelei word uit assosiasies wat met die Naam “God” voorkom. Daar is sprake van ’n “heilige God” (Jos 24:19), ’n “regverdige God” (Ps 7:10), ’n “lewende God” (Deut 5:26; 1 Sam 17:26, 36), ’n “God wat naby is” (Deut 4:7). Op ander plekke word van dieselfde eienskappe van God op ’n ander manier besing: “God wat aan my reg verskaf” (Ps 4:2), “God van my toevlug” (Ps 43:2), “God van reg” (Jes 30:18; Mal 2:17) en “God van my lof” (Ps 109:1).

Ander beskrywings in verband met God dui aan waar Hy woon en hoe omvangryk sy magsgebied is: Hy is die “God van die hemel” (Gen 24:7; Jona 1:9), die “God van die hoogte” (wat vertaal sou kon word as: die “hoë God”, Miga 6:6), “God van die hemel en die aarde” (Gen 24:3), “God van die aarde” (Jes 54:5), “God van alle mense” (Jer 32:27), “God wat aan alle mense die lewe gee” (Num 16:22) en “God van die gode” (wat verwys na die “Allerhoogste God”, Deut 10:17; Ps 136:2).

Vir verdere lees: K van der Toorn 1995. “God (I)” in: K van der Toorn, K et al (red), Dictionary of Deities and Demons in the Hebrew Bible. Leiden: Brill.

Sidebar